Nuwe boek neem 26 Laevelders se geestelike lewensverhale saam
Die Laeveld is bekend vir sy merkwaardige mense; mense wat verskille maak in ander se lewens en wat aanhou om besonderse dinge te doen.

Marietjie Kriel het Maandagoggend beskryf hoe sy geweet het dat God haar geroep het om ander mense se verhale te vertel.
“Vroeg verlede jaar het die Here my baie duidelik laat besef dat ek die lewensverhale van kosbare mense in ons geliefde Laeveld moet neerskryf.”

Op Heilige Grond/On Holy Ground bevat lewensverhale van 26 mense van die Laeveld, asook van ‘n paar oud-Laevelders.
“In 13 Afrikaanse en 13 Engelse verhale deel ‘n ryke verskeidenheid gelowiges hulle pad van swaarkry en oorwinning met God se hulp. Afrikaanssprekendes, ‘n Duitser, ‘n Ethiopiër, ‘n Suid-Koreaan, ‘n Indiër en ‘n paar Swazi’s vertel hulle kosbare verhale,” lees die agterblad.
“So baie mense wat ons pad gekruis het en steeds kruis, se stories is merkwaardig,” sê Kriel.
LEES OOK: Koel af met ‘n koue happie
“Ek het daarom hierdie mense gevra om hulle verhale neer te skryf. Sommiges beskik oor geen tegnologie nie. Ek het gemeen om hulle persoonlik te ontmoet en met hulle gesprekke te voer, maar helaas, toe kom Covid-19 en ons word ingeperk. Sommige outeurs se familielede het hulle verhale help skryf en ons het dit oorgetik.”

Kriel het die boek Writing your life stories deur Bernard Selling opgesom en aan elke outeur gestuur met die versoek dat hulle verhale ook verhale van hoop gesentreer in Christus moes wees.
“Ek het elkeen se verhaal in verwondering gesit en gelees, en geweet ek betree nou heilige grond. Baie dankie aan die 26 mense van verskillende kulture wat elkeen bereid was om hulle lewenspad vol vreugdes, suksesse, maar ook diepe leed, mislukkings en teleurstellings, met my te deel.
“Aangesien elkeen se geloof diep in God geanker is, getuig hulle merkwaardige lewensverhale ook van oorwining in en deur Hom!

“Mag u met die lees van elke verhaal verwonderd staan en aangeraak word deur hierdie Laevelders se lewens van hoop en oorwinning,” sluit Kriel af.
Op Heilige Grond/On Holy Ground is beskikbaar teen R250 per kopie en kan per e-pos bestel word: marietjiekriel20@gmail.com.
Afwesig in die foto’s, maar ook bydraende skrywers, sluit in: ds. Carl Louwrens, past. TJ Maré, Susan Taute, Rienie van Rooyen, Gones Chettiar, Samuel Kembo, Solomon Mbuyane se weduwee en Phillip Nkhoma.
LEES OOK: Liefie die worshondjie is weer veilig tuis
