Bure langsaan halfklaar huis kry stank vir dank
"Ons huis het vir dae gepong! Toe ontdek ons uiteindelik 'n dooie knaagdier in 'n kas!" So mor die Ritsons van Alvarinastraat in Mandarin Grove in die gesogte GolfView Estates oor 'n rotteplaag waarmee hulle opgeskeep sit.

Inwoners van die landgoed, en veral die inwoners van die betrokke straat, wroeg al langer as 10 jaar met die kopseer van ‘n halfgeboude huis wat aan die einde van die cul-de-sac staan. Verskeie klagtes is oor die jare by die bestuur van die Golfview-landgoed, waarvan Mandarin Grove een van vyf woonkomplekse in die landgoed in Du Preezstraat is, ingedien.
Die klagtes het glo tot nou op dowe ore geval, en niks wesenlik is skynbaar aan die saak gedoen nie. Verlede maand het Laevelder oor die inwoners se lot berig. Toe het een van die inwoners wat anoniem wou bly die plek as “niks anders as ‘n verdomde rottekelder!” beskryf.

In daardie stadium was die erf nog relatief skoon van bossies en onkruid, maar hope bakstene op palette, wat glo deur die “nuwe” eienaar in Desember daar afgelaai is, het ‘n onooglikheid geword. Die groen skadunet wat om die perseel gespan is, dra min by om die haglike struktuur te versteek.
Die inwoners se vrese oor ‘n moontlike rot- en muisplaag het nou ‘n werklikheid geword. “Ons word die afgelope weke erg geteister deur rotte en muise wat in ons huis probeer kom,” vertel Tommy Ritson, langs wie se erf die halfgeboude huis geleë is. Dele van die gesin se agterdeur wat al voos geknaag is, is die stille getuienis van die aanslag van die knaagdiere.
Verlede week het die Ritsons ‘n onaangename reuk in die kombuis begin optel. “Dit het al erger geword en ons het vermoed dat daar iewers ‘n dooie knaagdier in een of onder een van die ingeboude kaste moes wees,” vertel Rentia Ritson. Hulle het die plek omgedolwe om die oorsprong van die stank op te spoor. Dinsdag kon hulle huishulp daarin slaag om die dooie, verrotte knaagdier onder een van die ingeboude kaste uit te grawe.
“Bouwerk aan die halwe huis het meer as 10 jaar gelede begin maar skielik tot stilstand gekom. Die plek is onooglik en niemand weet wat daar aangaan nie,” sê Ritson. Laat verlede jaar het die inwoners gehoor ‘n plaaslike prokureur het glo die plek gekoop nadat die vorige eienaar ‘n paar jaar gelede oorlede is.
‘n Sprankie hoop het in Desember onder die bure opgevlam toe daar boumateriaal by die perseel afgelaai is. Gerrit van Wyk, nog ‘n inwoner van die straat, is net so omgekrap. Volgens hom het die huis oor die jare skynbaar ‘n paar keer van eienaars verwissel. Ingevolge ‘n klousule in die reëls van die beheerliggaam, is daar wel ‘n tydbeperking gestel oor hoe gou die huis klaargebou moes word.
Van Wyk sê die beheerliggaam het nog al die jare net skouers opgetrek. “Hulle sê die enigste stappe wat teen ‘n eienaar wat sloer met die bouery geneem kan word, is om ‘n boete op te lê. Die bestuur sê die boetes is glo wel uitgereik, maar niemand weet of dit ooit betaal is nie.”
LEES OOK: NHS spog met 100% slaagsyfer
In ‘n brief aan inwoners het die bestuur glo onderneem om ‘n kontrakteur te kry om die plek op te ruim. Bossies en onkruid staan tans skouerhoog op die erf. Die koste van die opruimingswerk sal skynbaar van die nuwe eienaar teruggeëis word.
LEES OOK: Nuwe boek neem 26 Laevelders se geestelike lewensverhale saam
Navrae aan Pro Properties, wat glo onlangs aangestel is as die nuwe bestuurspan van die landgoed, het teen druktyd nog nie op skriftelike navrae gereageer nie. Wanneer dit ontvang word, sal dit gepubliseer word.
