Liefie samel kos in vir dierewelsynsorganisasies
Uit dankbaarheid en om terug te gee aan die gemeenskap, het Anneke van Schoor en haar worshondjie, Liefie, hulle Saterdag by Friends Café net buite Mbombela spandeer om dierekos in te samel.

Na ‘n inbraak by Van Schoor se huis sowat twee weke gelede, het Liefie verdwyn. Van Schoor het ongelooflike ondersteuning vanaf die gemeenskap ontvang en het gesê dat dit ‘n groot impak op haar gemaak het.
Liefie het die Saterdag vermis geraak en Van Schoor se huiswerker, Esther Sifunda, het haar Maandag weer gevind.

Van Schoor het mense uitgenooi om Liefie te kom ontmoet by Friends Café en ook honde- of katkos saam te bring wat sy Maandag aan ProLife en die DBV oorhandig het.
LEES OOK: Nuwe boek neem 26 Laevelders se geestelike lewensverhale saam
“Daar is soveel mense wat net wil kom hallo sê en wil kom foto’s neem.”
Sy het gesê Liefie is nou omtrent ‘n beroemde – sy is nie net haar ma s’n nie, maar ook Mbombela se Liefie.
“Weet jy, dit verbaas my hoeveel mense daardie plasing gedeel het. Dit was vir my ongelooflik. Om ‘n plasing te deel waar ‘n vroumens so lelik huil… want dit was ‘n full-on ugly cry gewees; dit was nie eers ‘n mooi huil gewees nie.”
SIEN OOK: IN FOTO’S: Hoërskool Nelspruit se matriekklas van 2020 spog met 100% slaagsyfer
Sy het gesê almal wat haar ondersteun het en ook kos kom afgee het is mense wat deur en deur lief is vir diere.

“Diere maak staat op ons en dis hoekom ek hierdie gedoen het; ek weet ProLife benodig kos en die DBV ook.”
Sy het ongeveer 25 kositems gekry wat sy tussen die twee organisasies opverdeel het. “Dis nie baie nie, maar dis daar. Elke bietjie maak ‘n verskil.”
