Local newsNews

Rondloperbeeste het inwoners raadop

Die drie troppe beeste wat in die plaaslike strate ronddwaal het die hele gemeenskap aan die praat. Die inwoners is bekommerd oor die veiligheid van die beeste én padgebruikers.

Een van die beeste is Maandagaand raakgery op die Kaapsehoop-pad en is uiteindelik dood. Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het ‘n oproep ontvang oor die bees wat raakgery is en toe agter iemand se voertuig gesleep is.

“Die dier het ernstige wonde opgedoen en het erg gely,” het die DBV gesê. Daar was geen ander keuse as om die dier van sy lyding te verlos nie.

Dié diere is die Stad van Mbombela Plaaslike Owerheid se verantwoordelikheid en die DBV mag net betrokke raak as ‘n dier beseer is, soos met die geval Maandagaand.

Volgens die DBV kon die munisipaliteit as gevolg van onvoorsiene omstandighede nie hulpbronne verskaf of dadelik help nie. Die DBV het die ander beeste na aan die pad met die res van die trop herenig.

“Ons het probeer om die trop se beweging in te perk deur tydelike hindernisse op te stel.” Nog ‘n bees is Dinsdag op die N4 raakgery. Die DBV het die bees gehelp en hom begelei na die res van sy trop.

Tersia Marshall, die DA-raadslid van Wyk 15, sê die situasie is die munisipaliteit se verantwoordelikheid. “Die munisipaliteit, tesame met die verkeersafdeling, moet hierdie probleem oplos.”

Alhoewel die diere gemerk is, is niemand seker wie se beeste dit is nie. “Dit is ook ‘n sekuriteitsprobleem,” sê Marshall. “Honde blaf en mense dink hulle blaf net vir die beeste, maar dan is dit inbrekers.” Volgens Marshall was daar in die week al twee inbrake in Stonehenge.

Marshall glo dat die diere in ‘n skut gesit moet word en die eienaar verantwoordelik gehou moet word. “Die naaste skut is in Lydenburg en die munisipaliteit het nie ‘n voertuig om die diere soontoe te vat nie.” Die DA het al ‘n mosie vir ‘n plaaslike skut by die stadsraad ingedien.

“In ses jaar vandat die mosie ingedien is, is daar nog niks hieraan gedoen nie.” Diere wat op die dorp rondwaal is al geruime tyd ‘n probleem.

LEES OOK: Huldeblyke stroom in vir ontslape oud-minister

Die munisipaliteit het teen druktyd nog nie kommentaar gelewer op Laevelder se navrae nie.

Die koerant het die munisipaliteit reeds verlede September vir die eerste keer vir kommentaar genader, maar het toe ook geen reaksie ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button