Eerste blaaskans vir polisieduikers na 53 verdrinkings sedert begin van jaar
Volgens kapt. Pottie Potgieter, bevelvoerder van die polisie se Ehlanzeni-duikeenheid, was dit die meeste in sy loopbaan van 13 jaar.

MBOMBELA – Polisieduikers en ander reddingswerkers het sedert die begin van 2021 nie minder as 53 lyke van drenkelinge uit die water gehaal.
Volgens kapt. Pottie Potgieter, bevelvoerder van die polisie se Ehlanzeni-duikeenheid, was dit die meeste in sy loopbaan van 13 jaar.
Daar was by tye tot sewe verdrinkings op een dag. Dié eenheid, asook lede van die Nkangala-duikeenheid en die Off-road Rescue Unit, kon die afgelope naweek die eerste keer sedert die begin van die nuwe jaar ‘n bietjie asem skep.
Dit nadat hulle oudergewoonte hul eie belange opsy geskuif het vir diegene wat gedurende die afgelope tydperk se vloede ‘n geliefde aan die dood moes afstaan.
Slegs een persoon, ‘n 40-jarige man wat in Januarie naby KaNyamazane in die Krokodilrivier vermis geraak het, is nog soek.
ALSO READ: What to do when someone is drowning?
“Weens opdrifsel in die rivier waaronder hy vermoedelik begrawe is, en die teenwoordigheid van tientalle krokodille in die area, word die soektog erg bemoeilik en daarom bly hy vermis,” het Potgieter gesê.
Meeste van die slagoffers het riviere wat reeds gevloed het probeer oorkruis toe hulle meegesleur is. Die jongste slagoffer was ‘n eenjarige wat naby Badplaas uit sy ma arms gespoel is toe sy die Komatirivier wou oorkruis. Die liggaam is later verder af in die rivier deur die gemeenskap gevind.
ALSO READ: Cyclone Eloise claims young boy as first victim
Die getalle, wat van byna 10 tot nagenoeg 25 per maand vermeerder het, het einde Februarie begin afplat, maar die soektog het voortgeduur. Die afgelope naweek was die eerste een sonder ‘n verdrinking.
“Hoewel die ergste vermoedelik verby is, is ons blaaskansie moontlik van korte duur, met waarskuwings vir oorstromings wat vir die grootste deel van die binneland uitgereik is. Die gevaar van kitsvloede is beslis nog nie verby nie, en met die riviere en damme wat reeds tot oorlopens toe vol is, moet die gemeenskap steeds op hulle hoede bly,” het Potgieter gemaan.
Hy het bygevoeg dat vermiste persone dadelik by die naaste polisiestasie aangemeld moet word.
