Local newsNews

IN FOTO’S: Ereveldwagters kniediep in die wildernis

Die SANParke Ereveldwagters van die Laeveld-streek het die afgelope naweek die Lebombo Overland Eco Trail se gereedheid verseker vir wanneer dié roete sy eerste gaste in April ontvang.

Die SANParke Ereveldwagters van die Laeveld-streek is uitermate ’n groep mense met ’n passie vir die take wat hulle aanpak ter ondersteuning van die Nasionale Krugerwildtuin.

Die afgelope naweek se taak was om die Lebombo Overland Eco Trail se gereedheid te verseker vir wanneer dié roete sy eerste gaste in April ontvang. Verskeie spanne was verantwoordelik vir die vier onderskeie kampe waar gaste oornag tydens die roete.

Laevelder was saam met ’n span van 11 lede by die Pumbe-kamp om te sien wat hierdie taak behels.

LEES OOK: Eerste blaaskans vir polisieduikers na 53 verdrinkings sedert begin van jaar

Ongeveer 3 km duskant die kamp het ’n voorsmakie van die werk reeds opgeduik. Die roete is nie vir die algemene publiek oop nie en die plantegroei kon dus oorneem in die tye wat dit geslote was. Daar was minstens drie plekke waar bome ’n gedeelte van of bloot die hele pad versper het.

Die kampkoördineerder (spottend na verwys as “kampkommandant”), Martin Bahnemann, het een so ’n versperring uit die pad gesleep en met ’n klein krapwond teruggekom.

“Dis hoekom ons ereveldwagters is; sodat ons hier kan kom bloei en sweet,” het hy beide spottenderwys en ernstig gesê.

Uiteindelik by die kampterrein aangekom is gereedskap van snoeiskêr tot randsnyer ingespan om die onmiddellike omgewing te tem en ’n plek te skep om ’n tent en gazebo op te slaan. (Beide tente en gazebo’s het later daardie naweek onder swaar reën deurgeloop – die oggend se herstelwerk was nie sonder humor nie.)

Wat geriewe betref is daar puttoilette, maar van so ’n aard in ’n houthuisie opgestel dat jy jou kan verbeel jy is in enige van die wildtuin se hoofkampe. Storte is daar ook, maar dié maak gebruik van ’n katrolstelsel. Wanneer daar vuur gemaak word, word water verhit.

LEES OOK: KYK: Coco einde ten laaste veilig terug by die huis

Die water word dan na die stort geneem, in ’n emmer gegooi en opgehys om sodoende genoeg druk te skep vir wanneer die kraan oopgedraai word. Jy bepaal self vooraf die temperatuur waarmee jy gemaklik is, want daar is net een kraan.

Die ereveldwagters sorg dat al hierdie stelsels sonder probleme loop.

Na die heelwat langer as kniehoogte gras gesny is, is die twee badkamers en twee storte ingevaar en van dak tot vloer skoongemaak. Die hout is ook behandel met kreosoot om dit te beskerm.

Twee lede is getaak om die 4,6 km-pad wat na die kamp lei op só ’n manier te takel dat takke aan die kante hoogstens ’n voertuig sal kielie en nie krap nie. Om dit reg te kry moes die trekkrag van ’n 4×4 verskeie kere ingespan word.

Terwyl daar ongetwyfeld hard gewerk word, bied die natuur waarmee Pumbe omring is saam met die geselskap van mede-ereveldwagters ook die geleentheid om Moeder Aarde rondom ’n kampvuur of vroegoggend-koffie te waardeer.

Omdat die roete net vir gaste beskikbaar is, sien jy as ereveldwagter ’n deel van die wildtuin wat normaalweg nie moontlik is nie. “Hierdie is ons betaling vir wat ons doen… en dis meer as genoeg, dis ’n bonus,” het een lid, OB Smith, gesê.

SIEN OOK: IN PHOTOS: A day in the wild with Marc Cronje

As groep het hierdie 11 mense (meeste rondom die ouderdom van 60) besonder diverse agtergronde, maar deel hulle ’n sentrale passie vir die natuur wat hulle deur hul diens as ereveldwagters uitleef.

Die SANParke Ereveldwagters se deure is altyd oop vir nuwe vrywilligers. Vir meer inligting kontak Pieter de Bruyn, voorsitter Laeveld-streek op 082-558-4369 of besoek SANParke Ereveldwagters se webblad.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button