Jo Black skop die eerste van vele huiskonserte af
Laevelders wat al uitgehonger is vir ’n jolige musiekkonsert kan Saterdagaand lekker na die gewilde Jo Black luister tydens die regstreekste uitsending van Innibos en Radio Laeveld 100.5FM se eerste huiskonsert. Die uurlange uitsending skop om 19:00 af.

Die huiskonserte vind die laaste Saterdag van elke maand plaas en elkeen word danksy ’n borgskap deur kykNET regstreeks op Radio Laeveld uitgesaai. Saterdag 24 April kom Refentse aan die beurt, en daarna is dit Roan Ash op 29 Mei, die pianis Charl du Plessis op 26 Junie, Jak de Priester op 31 Julie en op 28 Augustus tree Elvis Blue op.
Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, sê die huiskonserte word voor ’n klein gehoor opgevoer weens die beperkings ingevolge die Covid-19-regulasies. “Slegs 20 tot 30 mense word uitgenooi deur die onderskeie huiseienaars waar die kunstenaars optree, maar danksy die uitsending kan alle aanhangers van Jo Black dié lekker live konsert as’t ware beleef.”

Gaste wat die konserte bywoon, maak ’n skenking wat aan ’n plaaslike liefdadigheids-organisasie van die gas-vrou se keuse geskenk word. Skenkings vir Jo Black se konsert eerskomende Saterdag gaan na die Dasha skool vir gestremdes.
LEES OOK: Coco einde ten laaste veilig terug by die huis
Boekwurms kan nog bespreek vir die Innibos-boekbekendstelling van die bekende historikus Fransjohan Pretorius se boek Terugblik. Dit word Saterdag om 15:00 by die Nagkantoor Kuierkroeg op Kaapsehoop gehou en toegang is R50. Daar sal ook eksemplare te koop wees.

Besprekings: 083-289-3823.
