Laeveld-liefde bly maar die beste
Na 'n lang en emosionele reis opsoek na liefde, vind Déan Botma dit toe hier op eie bodem.

Botma is ‘n macadamiaboer van die Laeveld en was ‘n deelnemer aan seisoen 13 van die kykNET-reeks, Boer Soek ‘n Vrou.
KYK: Boer Déan se bekendstellingsvideo hier:
Hy het na vele aanmoediging van sy vriende besluit om ‘n kans te waag en in te skryf vir dié gewilde reeks.
Vier maande na die verfilming van die reeks geeïndig het, vertel Botma hoe sy pad weer met Megan Wille – wat ook ‘n deelnemer in dié seisoen was – s’n gekruis het.

“Ek was aanvanklik verbaas toe hy my na die blitsafsprake as een van sy top vyf meisies gekies het,” sê Wille. “Nóú maak dit baie sin, want daar is soveel raakpunte – ons kom van dieselfde omgewing en ons deel soveel belangstellings.”
Tog het die twee Nelspruit-boorlinge se paaie nooit voor die program gekruis nie. “Sy was ‘n paar jaar na my op skool,” sê Botma. “So, ons het mekaar elke keer net gemis.”
KYK: Boer Déan en Megan se blitsafspraak hier:
Botma het vir Wille in episode agt van dié seisoen gevra om die plaas te verlaat toe hy twee meisies moes kies om agter te bly. “Ek was onkant gevang toe hy my nie vra om te bly nie. Dit is hoekom ek na die program na hom wou uitreik; om sin te maak van alles,” sê Wille.
KYK: Megan se reaksie na sy huis toe gestuur is hier:
Dit is vandaar dat die twee weer in verbintenis getree het, nadat Botma se verhouding met Marné du Plessis – sy laaste keuse – tot ‘n einde gekom het. “Ons het kontak behou en Desember het ek haar genooi om saam met ons gesin vakansie te hou,” sê Botma.
“Ons het dié keer ons tyd geneem,” sê Wille. “Die verhouding het stelselmatig gegroei en vanaf Maart is ons amptelik ‘n paartjie.”

Volgens Botma is hy egter nie spyt oor enige van sy besluite tydens die proses nie. “Alles is soos dit moes wees,” sê hy.
Hy verduidelik dat hy die proses benader het met ‘n vooropgestelde idee van wat hy kon verwag en waarna hy opsoek was. “Niks kan jou voorberei op dié proses nie, maar dit bly steeds ‘n ongelooflike ervaring,” sê Botma.
“Ek sal enigiemand aanmoedig om in te skryf – dit is ‘n groot leerskool.” Beide Botma en Wille is dankbaar vir die program en waarmee hul daarvan kon wegstap.
‘n Nuwe seisoen wag egter nou op die paartjie. Botma verhuis vandeesmaand na George, waar hy ook met macadamias wil boer.

Wille verhuis van Johannesburg, waar sy tans balletklasse aanbied, terug Mbombela toe.
LEES OOK: Jong Laeveldse boer soek ‘n vrou
“Tyd sal leer,” sê Wille terwyl sy van haar eie vooruitsigte om na die Tuinroete te verhuis, vertel.
Skryf in vir Seisoen 14:

Boere kan nou vir seisoen 14 van die reeks inskryf. Stuur ‘n e-pos na boer@marche.media of besoek www.kyknet.tv
