Feeding Frenzy eis diere terug na DBV-saak uitgegooi word
Die klagtes van wreedheid teenoor en verwaarlosing van diere wat deur die DBV Nelspruit teen Derick Barnard van die plaaslike troeteldierwinkel, Feeding Frenzy, aanhangig gemaak is, is die week deur die hof uitgegooi.

Die klagtes het ingesluit dat diere in vuil hokke aangehou is, dat daar nie genoegsame kos en skoon water was nie, dat te veel diere hokke wat te klein was moes deel, dat vistenks nie skoongemaak is nie en dat daar weinig aandag aan die diere se gesondheid geskenk is.
Jaice Terblanche van die prokureursfirma, Terblanche Attorneys, wat namens Barnard optree, het gesê dat sy kliënt beplan om die diere waarop die DBV beslag gelê het, terug te eis.
Hy het reeds ‘n brief in die verband aan die DBV gestuur. Indien die diere nie terugbesorg word nie, beplan hy om die hof te nader vir ‘n bevel om die DBV te dwing om die diere terug te besorg of skadevergoeding te betaal.
Daar is vroeg in 2020 op meer as 300 diere beslaggelê. Laevelder het verlede maand berig dat die laaste van die diere wat verlede Februarie gekonfiskeer is, uitgesit is. Sommige van die gelukkiger diere het wel huise gekry. Die voëls wat uitgesit is mag egter volgens die DBV se beleid nie aangeneem geword het nie.
LEES OOK: Feeding Frenzy-eienaar brei uit oor saga met DBV
Die diere wat gekonfiskeer is, sluit ‘n verskeidenheid hoenders, krimpvarkies, voëls, hamsters, rotte, chinchillas, wurms, krieke, eende, muise en konyne in. Lize Pienaar, voorsitter van die DBV Nelpruit, het onderneem om kommentaar te lewer sodra sy tyd gehad het om die dokumente in die verband te bestudeer.
Meer oor dié saak sal binnekort in uitgawes van Laevelder verskyn soos dit ontwikkel.
