IN FOTO’S: Gemeenskap bring roerende huldeblyk aan Valley Farms-slagoffers
Annemarie Botha en haar seun Ruan Britz, wat Saterdag op Valley Farms vermoor is, se roudiens is vandag by die Hervormde Kerk Belladonna gehou.

Met Psalm 130 het ds. Gert MacDonald die diens gelei en die vrae wat ontstaan wanneer iemand so skielik en wreedaardig van ’n mens af weggeneem word, aangespreek.
“Annemarie was ’n ongelooflike mens, en as ek dit sê, weet almal dit. Sy en Ruan was albei spesiale mense. En dan wonder ’n mens, hoe kon hulle? Hoe kon hulle hierdie mooi mense op hierdie verskriklike manier hanteer?’’

Hier het hy begin om uit die skriflesing aan te haal. “‘Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.’”
LEES OOK: Husband says he never wants to go back to scene of bloody murders
In die begrafnisbrief het Annemarie se man, Fanie, gesê hy het “elke dag na werk uitgesien sodat ons weer bymekaar kon wees. Onse Vader kon nie vir my ’n beter, beste vroutjie gegee het nie.”

Ruan se liefde, vriendelikheid en naweekkuiertjies het hy ook uitgelig.
“Die Here het julle weggeneem na ’n beter plek toe waar ek verseker is julle vrede sal hê, geen seer of kwaad nie.”

Annemarie se glimlag was iets wat uit almal se woorde geblyk het, en Ruan het dié natuurlik by sy ma geërf.
Sy boetie en sussies sal sy drukkies altyd mis. “Jou visvang was besonders; hoop pa het mooi by jou geleer. Jy is ons boetie en ons sal jou altyd in ons harte hou.”





















