IN FOTO’S: Kunsdae op Kaapsehoop
Vier “studente” het vanuit Graskop, Pretoria, Broederstroom en Mbombela gekom om vir 'n naweek meer by Gerrit Pitout te leer oor skilderkuns.

Dié naweek van 16 April was die eerste van sy soort, maar daar is nog op die horison. Pitout, met meer as 50 jaar se kunservaring agter die blad, het gesê hy wil minstens elke tweede maand Kaapsehoop toe kom om hierdie geleentheid aan te bied.

Selfs al weet jy niks van verf af nie, is jy ook welkom om ’n plek te bespreek.
LEES OOK: VLU hou jaarvergadering
Diegene wat nie toebehore van hul eie besit nie, het die opsie dat Pitout vir hulle ’n pakket met die benodighede saamstel. Dit word dan by die prys vir die naweek gevoeg.

Afhangende van die medium wat gebruik word, kos die naweek net onder R4 000. Dit sluit twee aande se verblyf in die Angel’s Mist-gastehuis (waar die klasse ook aangebied word), asook ontbyt en een aandete in.
“Ek behandel so ’n maksimum van agt mense, sodat ek aandag aan almal kan gee. Ek vat hulle van die beginstadium af, die voorbereiding van hulle werk, en dan vat ek hulle deur verskillende tegnieke.
“Daar is byvoorbeeld ’n nat tegniek en ’n droë tegniek en verskillende style, so hulle kan dan kies waarvan hulle hou.”

Oor die naweek is daar met olie- en akrielverf gewerk, en studente het slegs goeie terugvoering gehad.
SIEN OOK: IN FOTO’S: Gemeenskap bring roerende huldeblyk aan Valley Farms-slagoffers
Daar is nog nie ’n datum vir die volgende reeks klasse vasgemaak nie, maar vir meer inligting kan Gené Pitout by 060-644-6262 gekontak word, of besoek die Facebook-blad, Art Pitout by Gerrit Pitout.













