Local newsNews

Drie Nellie-debatspanne deur na ATKV-finaal

Hoërskool Nelspruit het op Vrydag 14 Mei vir die eerste keer die Mpumalanga-ronde van die ATKV-debatskompetisie aangebied.

Sestien deelnemende spanne van Hoërskool Bergvlam, Hoërskool Ermelo, Hoërskool Lydenburg en Hoërskool Nelspruit het mekaar die woordstryd aangesê.

Die bekkige gr. 8’s van NHS, Clarissa Botha, Rohann Schultz en Pedrie Claassens, het onder leiding van adv. Maritza Uys as wenners van die juniorafdeling deurgedring na die nasionale finaal wat vanjaar op 12 tot 14 Augustus te Buffelspoort plaasvind.

Die juniors se debatsonderwerp was of geskiedenis ’n verpligte vak in alle Suid-Afrikaanse hoërskole behoort te wees of nie. In die seniorafdeling het twee spanne deurgedring na die nasionale finaal.

Niandi Coetzee en Cornelis van Dyk, albei in gr. 10 en ook deur Uys afgerig, het as wenners uit die stryd getree. Kort op hul hakke was die gr. 12-span, Erika le Roux en Teneil le Roux, wat afgerig is deur Theo van der Westhuizen.

Die seniors moes argumenteer of die onttrekking van multinasionale maatskappye aan Suid-Afrika die land tot voordeel behoort te strek of nie. Die Mpumalanga-kompetisie is deur die ervare ATKV-beoordelaars, Bennie Botha van eMalahleni, dr. Gustav von Bratt en Hano Wasserman van Pretoria beoordeel.

By die juniors was Rosemarie Oberholzer, Markus Muller en Tanya Pieterse van NHS in die tweede plek, gevolg deur Bergvlam se Sariette Kuperus, Nina van Heerden en Milde Cronjé in die derde plek.

LEES OOK: Willem Botha se grimeerklas bemagtig Laeveld-vroue

In die senior afdeling het Lydenburg se Tiaan Joubert en Fanie Erasmus derde geëindig. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button