Local newsUpdate

Lowhills-saga ten einde ná jarelange hofstryd

Die Lowhills-plaas is uiteindelik in die hande van sy nuwe eienaars.

Ná jare se hofgedinge en derduisende rande se regskoste is die bekende Lowhills-plaas aan die Strydomblokpad uiteindelik in die hande van die nuwe eienaars.

Die plaas, bestaande uit Gedeelte 6 en Gedeelte 8 van die plaas Lowhills 394, is in Maart 2023 op ’n aanlynveiling deur die likwidateurs van Pieriesfontein Boerdery (Pty) Ltd verkoop aan Pieter Tolmay en Elko Hentschel se maatskappy, Shofeeds (Pty) Ltd, vir nagenoeg R10 miljoen.

Die amptelike oordrag van die eiendom aan Shofeeds is op 19 Oktober 2023 afgehandel.

Die twee sakemanne het uitgebreide sakebelange in Parys in die Vrystaat.

Sedert die veiling het Shofeeds gesukkel om besit van die plaas te neem nadat Johann Möller geweier het om te trek. Hy het aangevoer dat die likwidasie en veiling ongeldig was en dat die grond aan twee familietrusts behoort, maar die Mpumalanga-hooggeregshof het dit verwerp omdat die maatskappy die geregistreerde eienaar was.

Die hofstryd

In die vier jaarlange hofstryd het Möller en sy lewensmaat, Sonell Joubert, verskeie regstappe en teenaansoeke ingestel, wat tot verdere vertragings in die proses gelei het. Joubert het op ’n stadium ook die nuus gehaal nadat Shofeeds ’n hofbevel bekom het dat haar olifant, Tswale, van die plaas verwyder moet word.

LEES OOK: New life winking for Tswale the Lowhills elephant

Die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad het uiteindelik op die olifant beslag gelê, waarna die dier na die Bellevue Forest Reserve in die Oos-Kaap verskuif is. Die hofstryd het op 5 November 2024 ’n verdere wending geneem toe Möller en Joubert as kwaadwillige (kwel-)litigante verklaar is. Op 15 September vanjaar is hul dringende aansoek om dié status tersyde te stel van die hofrol verwyder, met ’n kostebevel teen hulle.

LEES OOK: A storm erupts: Tswale’s future uncertain

Op dieselfde dag het Shofeeds aansoek gedoen om Möller en Joubert direkte tronkstraf van een jaar op te lê weens hul versuim om ’n vorige hofbevel om die plaas te ontruim, te gehoorsaam. Waarnemende regter P.D. Kekana het Möller en Joubert elk tot drie maande tronkstraf, opgeskort vir een jaar, gevonnis.

Finale uitsettingsbevel

Kekana het ook ’n finale uitsettingsbevel ingevolge die PIE-wet bekragtig en gelas dat Möller, Joubert en alle ander okkupante die plaas Lowhills teen uiterlik Woensdag, 30 September, moes verlaat. Volgens die hofbevel sou die balju hulle kon verwyder indien hulle nie vrywillig ontruim nie, met die hulp van die SAPD indien nodig.

Die hof het Möller en Joubert ook gelas om Shofeeds se regskoste vir die aansoek te betaal. Möller en Joubert het gedurende die naweek van 26 September begin verhuis. Laevelder het verskeie boodskappe aan Möller gestuur om onder meer vas te stel waar hulle nou woon.

LEES OOK: Court reserves judgment in Lowhills Farm dispute

Soos met talle vorige navrae gedurende die Shofeedssaak, is die boodskappe gelees, maar geen kommentaar is gelewer nie. Toe Tolmay en Hentschel verlede Vrydag saam met die geregsbode by die plaas opdaag, het hulle vasgestel dat die hoofperseel wel ontruim is.

Op navraag oor hul toekomstige planne het Möller die joernalis eerder daarvan beskuldig dat hy ’n uitnodiging om hulle op die plaas te besoek vir meer as twee jaar geïgnoreer het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button