Ontmoet die gesin aan die stuur van Jungle Café
Die Steyns van Lydenburg was nie van plan om 'n kroeg op 'n vreemde dorp in die middel van die grendeltydperk oop te maak nie, maar hulle het en is nie 'n dag spyt nie.
Raymond en Ansie Steyn het ‘n stoorplek in Hazyview kom soek waaruit hul seun, Ryno, sy eie onderneming kon bestuur, toe hulle op ‘n dag by die ou, verlate Jungle Café verbyry. Hul lewens het nét daar, op die hoek van die R40, onherroeplik verander.
“Ek het nooit gedink ek gaan op hierdie ouderdom in ‘n bar werk nie,” het Ansie gegiggel. “Maar ek is nie ‘n dag spyt nie. Ek sal dit vir ewig kan doen. Die mense van Hazyview het ons met ope arms verwelkom en staan ons nog elke dag in alle moontlike maniere by.”
Die egpaar en hul seun, wat uit die outoëlektriese bedryf in Lydenburg kom, het net kom kyk of die hoek op die R40 net voor Hazyview, genoeg spasie sou hê vir Ryno om sy eie onderneming te begin, toe Raymond agterkom dat dit ‘n kroeg was. “Hier was ‘n koelkamer en badkamers. Die plek het net ‘n bietjie skaaf en skuur nodig gehad. Ek het die idee van ‘n kroeg aan Ryno voorgelê en hy het ingestem. Só is ons die gasvryheidsbedryf in.”
Die Jungle Café se deure is op 1 Desember onder die nuwe bestuur, nét voor die tweede grendeltydperk aangekondig was, geopen. “Dit is natuurlik moeilik vir ‘n nuwe besigheid, veral in die alkoholbedryf, om ‘n grendeltydperk te oorleef, maar ons het en ons besigheid tel elke dag op, waarvoor ons baie dankbaar is,” het Ansie gesê.
LEES OOK: Drie Nellie-debatspanne deur na ATKV-finaal
Albei generasies Steyns geniet die nuwe uitdagings wat met die bestuur van ‘n kroeg gepaardgaan, en sê dit het selfs hul persoonlike lewens verryk. Ryno is die pa van ‘n sewe maande oue babadogtertjie, en sê dat sy lewe tot dusver op ‘n hoogtepunt is. “Ons baba is darem baie soet en huil ons nie wakker in die aande nie, so wanneer ek eers laataand in die bed kom, kan ek en my vrou darem albei rus.”
Ryno het verder gesê dat hy dankbaar vir sy ouers is, en dat dit nie te moeilik is om saam met hulle in die onderneming te wees nie.

“Ek werk eintlik al van skool af saam met my pa. Ons het al baie koppe gestamp, wat te verstane is wanneer pa en seun saam ‘n besigheid bestuur, maar nou is ek ouer en kan ons mekaar beter verstaan. Ek leer nog steeds baie by my ouers en ek is dankbaar teenoor hulle.”
Van verhuis wil Raymond en Ansie niks weet nie. “Ons sal met die grootste graagte hier op Hazyview aftree,” het Ansie gesê. “Die lewenswyse is rustiger, die mense is vriendelik en ons is al klaar baie lief vir die dorp.”
