Laerskool Nelspruit groet Arrie en Rénaldia
Na 35 jaar in die onderwys verlaat Arrie en Rénaldia Henn Laerskool Nelspruit en die Nellie Miere Kleuterskool om hul welverdiende aftrede te geniet.

Arrie en Rénaldia skryf albei in 1982 by die Goudstadse Onderwyskollege in. Hulle verwerf in 1985 beide hul onderwysdiplomas in senior primêre en pre- en junior primêre onderrig, onderskeidelik.
Arrie ververf ook later ‘n B.Ed-graad by die Randse Afrikaanse Universiteit met opvoedkunde, sielkunde, Bybelkunde en geografie as hoofvakke.
Hy werk vir ‘n aantal jare as departementshoof en hoof van verskeie skole; in 1999 word hy as die hoof by Laerskool Nelspruit aangestel en is hy tot op hede 22 jaar lank deel van die skool.
Vir vier jaar dien Arrie as die Laeveld Laerskole-Cravenweek se spanbestuurder en word hy later ook verkies tot voorsitter van die Laeveld Laerskole-skeidsregters.
In 1990 begin Rénaldia haar eie kleuterskool, Kêkkel en Kraai. Haar groen 1960-Fleetline-kombi was bekend as die vervoermiddel wat die kleuters op uitstappies geneem het, en is later omskep in ‘n kleurvolle prentjie met hoendertjies, gesiggies en die kleuters se hande op die buitekant geverf.
Na verskeie ander poste by kleuterskole in die Laeveld, begin sy in 2000 die Nellie Miere Kleuterskool vir Laerskool Nelspruit. Die Nellie Miere maak hul deure oop met vier kinders in die tydelike asbesklasse.
Binne twee jaar is daar 17 klasse, 345 kleuters, 17 onderwysers, 12 algemene assistente, ‘n binnenshuise speelterrein en ses buitespeelterreine wat omskep is in speelparke en opvoedkundige ruimtes.
LEES OOK: Bulle geskiet, R50 000 beloning vir skuldiges
Die nalatenskap wat Rénaldia opgebou het is ongeëwenaard en getuig van integriteit, deursettingsvermoë en harde werk.
Arrie en Rénaldia beplan om deur die land te reis, maar gereeld in Mbombela te kom kuier. Beide is baie opgewonde vir die nuwe seisoen wat vir hulle voorlê.
