Local newsNews

Barmhartige samaritaan snel fietsryer te hulp na besering in ongeluk

Welbekende besigheidseienaar, Harry Green, sê hy is dankbaar vir sy barmhartige samaritaan na hy “m*er hard” met sy bergfiets op die Claremont-pad geval het.

“Dit was asof ek eers weer bygekom het toe ek by ons slaapkamer instap en vir Maggie sê ek het geval en baie seergekry, en dat sy my hospitaal toe moet vat,” het Harry Green na sy fietsryongeluk vanuit sy hospitaalbed in Mediclinic Nelspruit gesê.

Anton Minnaar en ‘n vriend was gelukkig daar om Green te hulp te snel. Minnaar sê hy was self ‘n fietsryer. “’n Mens hoop maar altyd dat iemand dieselfde vir jou sou doen in so ‘n situasie. Ons moet eenvoudig bymekaarstaan en ‘n mens se medemens help.”

LEES OOK: Leë verhoë beteken leë beursies vir kunstenaars

Minnaar en sy vriend het by die bushalte by die T-aansluiting gesit en wag om werkers op te laai toe hulle ‘n man op sy fiets sien val.

“Ons het uit die bakkie gespring om te gaan help. Ons het vir hom maar die standaardvrae gevra, soos ‘Kan jy jou bene beweeg?’, ‘Ken jy jou naam?’ en ‘Weet jy waar jy bly?’”

Volgens Minnaar het Green alles baie goed aan hulle verduidelik.

Green sê hy is nou nog nie seker hoe hy dit reggekry het om sy redders tot by sy huis te beduie nie.

“Dit het vir my gevoel ek was lights out gewees tot ek vir Maggie (sy vrou) gesien het.”

Die Claremont-pad is een wat hy byna elke dag ry, maar hierdie dag het bloot anders uitgedraai. Maggie het gesê hulle woon in hierdie gebied en haar man ry gewoonlik so 15 tot 20 km per dag daar.

LEES OOK: Die Longtom fotograwe haal uit en wys

“Daar was baie mis op die pad. Dit was afdraande, so sy spoed was ongeveer 35 km per uur; sy voorwiel moes uitgegly het.”

Harry het gesê hy vermoed dat hy “by die bosse ingeneuk het” as gevolg van die mistigheid.

“Ek wil net vir die ou sê, baie dankie. As dit nie vir hom was nie, sou ek dalk net daar gelê het. Ek het ‘n goeie gedeelte van die teerpad gekoop. Baie dankie, jy is ‘n yster.”

Hy het gespot en gesê hy skuld Minnaar die grootste stuk biltong en ‘n bottel brandewyn na sy hulp.

Hy sê al wat hy onthou is dat iemand hom teen sy been geklap het en gevra het: “Kan ek jou help?”

“Mense kyk gewoonlik eerder weg en probeer so iets ignoreer, maar ek self, wat baie jare al fietsry, stop ook maar as ek iemand sien val. Jy maak seker die persoon is reg en ry dan maar verder.”

LEES OOK: Plaaslike skrywer stel haar eerste speurverhaal bekend

Harry is steeds tans in die Mediclinic Nelspruit waar hy aansterk. Hy het sy sleutelbeen en sewe ribbes gebreek. Die ribbes is elk op twee plekke gebreek. Hy ervaar ook probleme met sy regterlong as gevolg van die ribbeserings.

Hy het gesê hulle verwag dat die sleutelbeen se hersteltyd so ongeveer drie weke sal neem, maar die ribbes s’n baie langer.

“Hulle gaan so minstens drie maande neem en die enigste ding wat jy rêrig kan doen, is om hulle met pynmedikasie te pamperlang. Ek sal so ‘n val nie op my ergste vyand toewens nie.”

Harry was besig om vir die Cape Argus voor te berei, maar sal noodgedwonge nou eers moet aansterk en rus.

“Ek gaan definitief weer op my fiets klim, maar hierdie keer net baie stadiger ry.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button