Sy hande staan vir niks verkeerd nie
Koos Oosthuizen, 'n afgetrede man van twaalf ambagte, sê sy lewe het handomkeer verander toe hy in 2019 sy been weens gangreen verloor het.

Sedert 2009 roep hy die Oranjezicht Aftreeoord sy tuiste. Die oord is egter nie ingerig vir inwoners met rolstoele of loopapparate nie.
Op ‘n dag het hy besluit, tot hier toe en nie verder nie. Dit was die laaste keer dat hy sy rolstoel by die trappe in die tuinpadjies moes afsleep as hy iewers heen wou gaan, of val wanneer hy die graspaadjie gebruik.

Drene Ramsey, die opsigter van die oord en ‘n goeie vriendin van Oosthuizen, het dit op haarself geneem om vir hom bakstene te kry om ‘n padjie te bou om sy lewe te vergemaklik.
Oosthuizen was voor sy aftrede ‘n sogenaamde jack of all trades, soos hy dit beskryf, en hy kon die padjie help bou.
Hy het ook ‘n paar weke gelede ‘n kunsbeen by Org Rautenbach as skenking ontvang – iets wat hy nie self sou kon bekostig nie.
LEES OOK: Leë verhoë beteken leë beursies vir kunstenaars
“Ek wou graag al die dele wat trappe is, en dit ongerieflik maak vir diegene wat moeilik loop, gelyk maak, sodat almal se lewens kan vergemaklik word,” sê Oosthuizen.
Hy bedank Rautenbach vir die skenking van die kunsbeen en Machiel en Bianca Griesel van Biaton Paving Bricks wat hierdie verbeteringe moontlik gemaak het.
