Grawe daai liedjie uit die laai en wen met GROOT Ontbyt en Innibos Nasionale Kunstefees
Lê daar ’n liedjie in jou laai wat jy heimlik dink die volgende "Stuur groete aan Mannetjies Roux" kan wees? Dan is dit tyd om dit af te stof en in te skryf vir die GROOT Ontbyt en Innibos Liedjie inni laai-kompetisie.

Amateur en professionele liedjieskrywers en musikante kan vir dié opwindende kompetisie inskryf. Liedjies kan in enige genre wees, maar moet die skrywer se eie komposisie en pennevrug wees, en in Afrikaans. Deelnemers moet 16 jaar of ouer wees.
Die wenprys is R10 000 kontant. Daarby sal die wenliedjie professioneel vervaardig word as ’n enkelsnit, en gesing word deur ’n bekende Suid-Afrikaanse musiekkunstenaar op die hoofverhoog wanneer die volgende Innibos Kunstefees in Mbombela gehou word, afhangende van Covid-19-regulasies.
Andy Lubbe, die feesdirekteur van Innibos, sê die vermaakbedryf in Suid-Afrika is besonder erg gekniehalter deur die Covid-19-pandemie.
“Tog het dit kunstenaars en liedjieskrywers gedwing om diep te delf in hul kreatiwiteit, en is daar skeppende werk van hoogstaande gehalte.
“Die GROOT Ontbyt en Innibos Liedjie inni laai-kompetisie wil opkomende en gevestigde kunstenaars die kans bied om hul liedjies na die professionele arena te bring. Ons sien uit na ’n ryke liedjieskat!”
Indien die liedjieskrywer nie self ’n vaardige sanger is nie, kan hy of sy die hulp van iemand wat die noot kan hou inroep, hoewel die prysgeld slegs aan die liedjieskrywer toegeken sal word.
ALSO READ: Barmhartige samaritaan snel fietsryer te hulp na besering in ongeluk
Inskrywings het Donderdag 15 Julie geopen en sluit 20 Augustus. Die wenner word reeds op 31 Augustus aangekondig.
Die kriteria waarvolgens die liedjies beoordeel word is oorspronklikheid, inhoud, liriek en melodie.
Die wenliedjie sal gekeur word deur ’n paneel suksesvolle sangers/liedjieskrywers, die programsamesteller van Innibos Kunstefees, asook verteenwoordigers van die musiekvervaardiger, The Hit Factory, en GROOT Ontbyt.
Vind die volledige kompetisiereëls en hoe om in te skryf by www.innibos.co.za of stuur ’n e-pos aan mariolise@innibos.co.za.
