Eisteddfod bied jou die kans om touwys te word by dié toneelkenners
Inskrywings vir dié werkwinkels sluit binnekort en deelnemers moet nóú inskryf vir die kans om aan die voete van hierdie kenners te leer.
MBOMBELA – Bekende akteurs kom binnekort stad toe om jong toneelliefhebbers en Eisteddfod-deelnemers touwys te maak in die fynere kunsies van die dramabedryf. Margit Meyer-Rödenbeck, Wynand van Vollenstee, Francois Jacobs en Adriaan van As bied tydens die naweek van 30 en 31 Julie dié werkswinkels aan.
Die temas sluit in stemgebruik en -projeksie, uitspraak, memorisering van tekste, lyftaal, selfvertroue, toesprake, filmwerk, die keuse van tekste, dialoë, hoe om senuweeagtigheid te beheer en die sakekant van die vermaaklikheidsbedryf.
Dit word by die Communio Kerk aangebied en kos slegs R60 vir al drie werkwinkels. Die werkswinkel op Vrydag 30 Julie is van 14:00 tot 20:00. Op Saterdag 31 Julie begin dit om 09:00 en sal dit teen 11:00 ten einde loop.
Innibos is al vir baie jare as borg nou betrokke by die Nelspruit Eisteddfod. Hierdie jaar word hierdie betrokkenheid op ‘n besondere manier, wat direk met die kunste verband hou, uitgebou, danksy fondse bewillig deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi).
“In ‘n tyd waar huishoudings platsak deur die coronavirus gelaat is, is hierdie werkswinkels beslis waarde vir geld,” het Andy Lubbe, Innibos se feesbestuurder, gesê. “Hierdie is moontlik omdat NATi die fondse bewillig het, en ek wil die Laeveld se jeug aanmoedig om hierdie geleentheid met albei hande aan te gryp.”
Margit Meyer-Rödenbeck is ‘n bekende aktrise, komediant, regisseur en teatervervaardiger en veral bekend vir haar verhoogkarakter, Dowwe Dolla. Wynand van Vollenstee is ‘n veelsydige akteur wat veral bekend is as Gielie in Huis Lelieveld, maar het ook sy veelsydigheid bewys in teaterproduksies soos Groet die Grotman en Leengoed.
LEES OOK: Grawe daai liedjie uit die laai en wen met GROOT Ontbyt en Innibos Nasionale Kunstefees
Om ‘n bietjie pret aan die werkswinkels te verleen, gaan die bekende duo Francois Jacobs en Adriaan van As van Rubberarm-produksies op praktiese wyse demonstreer wat in die teaterwêreld aangaan. Francois Jacobs het bekendheid verwerf in Huisgenoot se wegholtreffer, Vir die Voëls, en Adriaan van As het reeds in verskeie produksies soos ‘n Seder val in Waterkloof en Betroudag opgetree.
Inskrywings kan aan Philna Scholtz by philna@innibos.co.za gestuur word, of skakel haar by 013 741 5294.

