Met die ou skoolbus oor die Longtompas
’n Onlangse foto van ’n winter-bergtoneel vanaf die Longtompas in ’n plasing op die gewilde Facebook groep, Laevelders (facebook.com/groups/ Laevelders), het Lynette Behrens, een van die groep se 28 000 lede, geïnspireer om haar skryftalent te gebruik om hierdie mooi maar lewendige herinnering as oud-leerling aan die Hoërskool Lydenburg met ons ander te deel:
Longtompas en Hilltop gee my ná ’n leeftyd klaar met skool nog steeds koue rillings as ek terugdink aan my hoërskooldae op Lydenburg in die laat sewentigs en vroeë tagtigerjare. Sportdae op Nelspruit of Barberton… Die skoolbus volgepak met jillende en gillende kinders, met oom Jannie Bosman agter die stuur. Oom Jannie was ’n kort omie; hy het so net-net bokant die stuurwiel uitgesteek, maar was wel ’n uiters betroubare bestuurder. Die kinders het oor die algemeen nie veel aandag aan die smal kronkelpad met kansvatters van bo en onder geskenk nie, óf dik mis dat jy nie jou hand voor jou oë kon sien nie, óf op helder sonskyndae die afgronde wat wydbek lag en lok nie. Ekself, die tweede jongste van die vyf Rautenbachdogters, was egter deur onse ma grootgemaak om bang te wees vir alles en nog wat, en was dus angsbevange. My verbeelding het absoluut oortyd gewerk om beelde te skep vir wat moontlik kon foutgaan. Daai bangerigheid het netjies vasgegroei tussen my blaaie, want vandag nog draai my maag al kyk ek net na ’n foto van ’n ordentlike bergpas. En sou ons een moet aandurf, sit ek verkieslik met toe oë tot Johan sê ons is uit! Raad vir ouers: Moenie joú vrese op jou kinders laat voortgroei nie! Dankie vir pragtige foto’s wat ou herinneringe terugbring.
