Local newsNews

Help Hayley om ’n model te word

Laevelder het sowat twee maande gelede oor Hayley berig in die toeloop tot haar verskyning in die 2022 Vitiligo Awareness Calendar. Sy wil graag ander inspireer, en sigbaarheid is net die begin daarvan; daarom die kalender en nou ook dié fotokompetisie.

Hayley Steyn (13), ’n leerder van Curro Nelspruit, het onlangs vir ’n fotokompetisie ingeskryf en wil graag hê dat Laevelders haar moet help om te wen.

Die kompetisie, aangebied deur Foto Fokus, bied opkomende modelle en akteurs die kans om naam te maak in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsindustrie.

Hayley het ingeskryf om deel te wees van ’n video saam met die sangeres Andriëtte Norman. Daar kan nog tot middernag 12 Augustus vir Hayley op die webblad andriette.modelsa.tv/ gestem word.

LEES OOK: Met die ou skoolbus oor die Longtompas

Elke finalis kry ’n unieke kode (Hayley s’n is AM272). Hierdie kode word dan na 47620 ge-SMS. Kliek hier om die finaliste te sien.

Voorlopers word elke aand tussen 18:00 en 22:00 op die webblad gelaai. Hayley is op hierdie stadium een van die voorlopers in die kategorie van 11–13 jaar vir liedjie 2 van Norman se twee liedjies.

Wees op die uitkyk vir dié foto wanneer jy op die webblad vir Hayley soek. > Foto: Lizelle Diederiks

Laevelder het sowat twee maande gelede oor Hayley berig in die toeloop tot haar verskyning in die 2022 Vitiligo Awareness Calendar.

LEES OOK: Hayley verskyn eersdaags op vitiligo-kalender

Vitiligo is ’n velkondisie wat wit kolle op die vel veroorsaak en Hayley is in 2018 daarmee gediagnoseer. Slegs nagenoeg 1 % van die wêreldbevolking het hierdie kondisie.

Buiten die sigbaarheid van die kolle is daar geen negatiewe simptome van vitiligo nie.

Hayley omhels haar velkondisie as ’n inherente deel van haarself. As jong tiener wil sy graag ander inspireer, en sigbaarheid is net die begin daarvan; daarom die kalender en nou ook die kompetisie.

Die model Winnie Harlow (wat ook vitiligo het) is een van haar rolmodelle.

“Sy is die eerste persoon wat ek gesien het wat soos ek lyk, dis hoekom ek gedink het sy is cool. Ek sal ook graag ’n inspirasie vir ander mense wil wees.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button