Heimwee en nostalgie vir skool se eeufeesviering
Met die Hoërskool Lydenburg se eeufeesnaweek om die draai, gaan Steelburger/Lydenburg Nuus 'n spesiale bylaag uitgee.
Dit word op 30 September in die koerant versprei. Dit is op die vooraand van die eeufeesnaweek, 1 tot 3 Oktober. Kosbare stories en verhale het die afgelope paar maande die redaksie se ore bereik, soos dié van Ben Maree en Erick Schulze. In 2019 was die twee oud-skoliere beide 88 toe hulle by die skool besoek afgelê het. Schulze en Maree se families word gevra om hulle welstand te bevestig.
Beide die twee skoolmaats het in in 1949 gematrikuleer. Toe Schulze sy skoolbaadjies en rugbystewels in 1993 aan die hoërskool skenk, het hulle dit pragtig uitgestal in ‘n glaskas vol herinneringe in die voorportaal.

Maree se pa was vanaf 1945 tot 1955 skoolhoof by Hoërskool Lydenburg. Kontak die skool om meer oor die feesnaweek uit te vind, of skakel een van die nommers in dié berig. Almal word gevra om te registreer.
‘n Feeswyn is te bestel en die vreugdevure skop af met ‘n piekniek die Vrydagaand, 1 Oktober. Die Saterdag is daar ‘n gholfdag en saamkuier op die rugbyveld en die naweek word met ‘n kerkdiens by die NG Moedergemeente op Sondag 3 Oktober afgesluit. Vir meer inligting skakel 013 235 2111 of stuur ‘n e-pos na lydenbond@lydens.co.za.
‘n Hele komitee werk reeds langer as ‘n jaar om ‘n fees der feeste te hou. Daar is reeds ‘n feesblad op Facebook gestig met meer as 1 200 lede. Volg die blad met die naam “Hoërskool Lydenburg Eeufees/Lydenburg Bond/High School Lydenburg Centenary” en versoek om aanvaar te word. Daar kan ook by die Whats-App-groep by 082 729 6733 aangesluit word. Lesers en sakeonderne-mings wat graag wil deel wees van hierdie besonderse eeufeesbylaag, is welkom om die koerant by 013 235 1624 te kontak.
Skakel ook Michelle Boshoff by 076 091 8401 of e-pos haar by michelle@steelburgernews.co.za. Oud-leerders word gevra om kontak te maak en staaltjies en ou foto’s aan te stuur.

Lees ook: Druk op stadsraad verhoog ná rou riool steeds vloei






