Local newsNews

Volstoom vorentoe met Dawie se treinkamer

Hy was maar 'n klein tjokkertjie aan die begin van sy skoolloopbaan. Pa Kallie was 'n senior inspekteur by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens in Bloemfontein.

MBOMBELA – Met elke geleentheid wat hom voorgedoen het, het Dawie Human, nou ‘n bekende argitek in die Mpumalanga-hoofstad, saam met sy pa werk toe gery en langs die treinspoor gaan staan, en hom aan die lokomotiewe vergaap.

Dit is juis tóé dat die treingogga hom erg gebyt het. So erg dat hy kliphard gespaar het en op ouderdom nege sy eerste treinstel gekoop het. Die trein is steeds deel van sy unieke versameling. Sedertdien was daar geen keer aan sy passie en entoesiasme met die versameling van modeltreine nie.

“Sodra ek dink ek het nou alles gekoop, dan duik daar weer iets op my versamelaarsradar op wat ek net moet aanskaf,” vertel Human.

Sy hele versameling bevat Märklin-treine, ‘n hoogaangeskrewe modeltreinvervaardiger van Duitsland. Tans spog Human met 16 stoom-, drie diesel- en drie elektriese lokomotiewe. Hy het ook twee besonderse hoëspoedtreine soortgelyk aan die sneltreine van Europa en Japan.

In die versameling is ook meer as 70 passasierswaens en 257 treintrokke! Twee van sy gunstelinge waarna hy baie lank gesoek het, is modelle van die massiewe Krokodil-lokomotiewe wat in die jare 1919 en 1927 deur die Switsers en later Duitsland gebou is. Dié lokomotiewe is spesiaal gebou om geweldige swaar vragte in veral die bergagtige gebiede van Europa te sleep.

LEES OOK: Hayley Steyn slaan ‘n rol in musiekvideo los

“Die naam van die lokomotiewe, Krokodil, kom van die baie lang neuse aan beide kante van die bestuurskajuit.” Die Krokodil is deel van die klas CE 6/8 II-reeks lokomotiewe. Toe Human drie jaar gelede sy huis op Bateleur Landgoed begin bou het, was een van die voorkeurvertrekke in sy ontwerp ‘n kamer vir sy treine.

Vandag spog hy met ‘n treinkamer van 7 m by 4 m. Teen die mure van die vertrek is talle pragtige imbuiakaste wat hyself gemaak het en waar sy versameling veilig agter glasskuifdeure geberg word. Die uitdagende deel waarmee hy homself nou besig hou is om ‘n hele spoor- en landskapuitleg van 6 m by 3 m te bou. Wanneer die uitleg voltooi is, gaan daar meer as 60 m se treinspore wees.

“Ek is so 30% klaar en kan nie wag dat alles gereed is om my eerste treinrit aan te pak nie.”

Hy volg nie ‘n spesifieke tema met die bou van die landskap nie, maar daar is huisies, industriële geboue, waterstrome, tonnels, spoorwegstasies en klein dorpies. Die hele uitleg is ook toegerus met straat-, huis- en gebouligte, en ‘n hele reeks sinjale en wissels sorg dat elke lokomotief in sy regte trajek hardloop.

LEES OOK: Besoek i’langa Mall en gaan bos met Innibos

‘n Jaar of wat gelede het Human al sy lokomotiewe na digitaal omgeskakel. “Op dié manier kan ek die hele uitleg van een beheerpaneel en ‘n rekenaar af beheer.” En wat is sy grootste probleme wat hy nou met sy stokperdjie ondervind? “Ek moet ophou koop, want daar is regtig nie meer plek nie!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button