Geliefde oudpolisieman van Mbombela sterf skielik aan malaria
“Hy was ‘n baie lojale mens en bekend by almal. Hy het na mense omgesien en gehelp.”
‘n Oudpolisiekolonel en rugbyliefhebber van Mbombela, Pieter “Joep” Joubert, is die afgelope naweek aan malaria oorlede.
Hy het na bewering dié siekte, tydens ‘n onlangse jagtog in Limpopo opgedoen.
Ansie Arrow (64), sy lewensmaat van die afgelope 30 jaar, het gesê dat Pieter op Vrydag 10 September ernstige simptome begin ervaar het. Hy is Sondag 12 September in die hospitaal opgeneem en is kort daarna oorlede.
“Hy was ‘n baie lojale mens en bekend by almal. Hy het na mense omgesien en gehelp. Hy het altyd vir ander mense gegee en niks ooit terug verwag nie,” het Ansie vertel.
LEES OOK: André Swanepoel kom tot sterwe
Ná sy polisieopleiding in die vroeë 70’s was Pieter vir ‘n paar jaar in Namibië ‘n lid van Koevoet. Na afloop van die oorlog is hy by die polisie se uniformtak in Nelspruit aangestel. In 1995 is hy bevorder tot kolonel en stasiebevelvoerder van die Nelspruit-polisiekantoor. Hy het in 1998 die polisiemag verlaat. Dit is ook in dié polisie waar hy vir Ansie, ‘n voormalige luitenant-kolonel, ontmoet het.

Foto: Verskaf
Pieter het ‘n groot liefde vir rugby gehad, en volgens Ansie het hy tot verlede jaar nog vir die Laeveld Leeulopers uitgedraf. Hy was op ‘n stadium die voorsitter van dié klub en het voorheen ook vir die polisie rugby gespeel.
“Hy was ‘n baie geliefde mens onder die polisie se personeel en selfs sy juniors. Hy was ‘n uitstekende bevelvoerder en het altyd die gemeenskap se belange op die hart gedra,” sê Dries Bezuidenhout, ‘n vriend en oud-polisiekollega van Pieter.
‘n Roudiens vir Pieter word op Maandag 20 September om 09:00 by die Nelspruit Rugbyklub gehou.
