Local newsNews

Voortrekkers sit die wiel aan die rol ten bate van renosters

Om ’n wawiel 420 km ver te rol ter wille van die bewusmaking van renosterbeskerming, en dít om die 90-jaar bestaan van die Voortrekkerbeweging te vier, maak vir enige Voortrekker sin.

Die idee agter die rol van hierdie wawiel is om geld in te samel vir die tegnologiese uitbreiding van die Nasional Krugerwildtuin – R1 per meter.

Volgens Jan Engelbrecht, die leier van die Komatipoort Kommando, is die belangrikste die bewusmaking van die stand van sake rondom renosterstropery en ook dít wat veldwagters daagliks deurgaan om dit stop te sit.

LEES OOK: Geniet ‘n teetjie met Lizz Meiring

Tweedens is die kostes daaraan verbonde om renosterstropery te beveg ook noemenswaardig.

Die verjaardagaktiwiteit het behels dat die Voortrekkers ’n tuisgemaakte wawiel wat spesiaal vir dié doel ontwerp is, rol. Die wiel is van die historiese Oosterlijn-brug in Komatipoort na die Voortrekkermonument gerol.

Die 15 kommandos bestaan gesamentlik uit 2 648 lede, wat beteken dat elke lid die wiel 160m ver rol. Komatipoort, Mbombela, Belfast en Burgersfort het reeds hulle afstande van ‘n altesame 90 km voltooi. Die wiel is toe aan die Pretoriaanse kommandos besorg vir hulle om verder hulle afstande daar af te lê.

Op 11 September het die wiel by die monument gedraai. Teen 16 Desember sal die volle 420 000 meter afgelê wees. Dan word daar beoog om die ingesamelde bedrag tot die beskikking van die ontplooide magte te plaas.

Die Care for Wild Rhino Sanctuary baat ook uit die projek. Die Voortrekkers het een van hul wesies, Arthur, aangeneem.

Die wawiel is ontwerp en gebou deur Gerhard Porter in Marlothpark met skenkings van BUCO, RCL en Rab Steel.

Engelbrecht het bevestig dat dié inisiatief die Komatipoort-kommando se skepping was, en dat die projek guns geniet.

“Meer as 2 500 direkte deelnemers en hulle gesinne en vriende het bewus geword van die stropery wat hier reg langs Mbombela en Nkomazi gedoen word, en so maklik misgekyk word.

LEES OOK: So op ’n druppel identies

“Dit sal van onskatbare waarde wees as die tegnologie wat reeds ingespan word in die wildtuin, veral in die intensiewe beskerminsgsone suid van Skukuza, uitgebrei kan word sodat voorkoming van stropery, arrestasies en vervolging van die stropers versterk word. Die meeste renosters bevind hulle in hierdie gebied.

“Die wildtuin en renosterbeskerming is ons almal se verantwoordelikheid. Ons het die wildtuin nodig en hulle ons,” sê Engelbrecht.

Stop Poaching Endangered African Rhino (SPEAR), ’n organisasie sonder winsoogmerk, is die fondsfasiliteerder. Die organisasie het ook binnekort ’n samekoms met belangrike rolspelers in die wildtuin gehad.

Bydraes kan betaal word aan enige een van die Laeveldse kommandos wat dan na die Voortrekkers oorbetaal sal word.

Kontakbesonderhede
• Belfast: Hendrie Pieterse by 082 828 0664
• Burgersfort: Ria van Wyk by 079 212 1777
• Hoedspruit: Mellanie Wright by 084 767 4608
• Mbombela: Lilanie van der Merwe by 072 308 5032 en
• Komatipoort: Jan Engelbrecht by 082 784 5682.

Artikel 18(3)-sertifikate is beskikbaar vir skenkers. R1 per meter is maar R160 per kind, maar meer milde bedrae as dit per deelnemer word ook verwelkom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button