Frank Opperman sorg vir skaterlag én nadenke by Gaan Bos inniMall
Die akteur was op Donderdag 23 September te sien in sy eenmanstuk, Steeds Donkie.


Frank Opperman het Donderdagoggend vanjaar se Gaan Bos inniMall by i’langa Mall geopen met sy vertoning, Steeds Donkie, geskryf deur Dana Snyman.
Die stuk is in ‘n fliekteater by Ster-Kinekor opgevoer en het gesorg vir skaterlag onder die gehoor. Opperman laat die gehoor egter ook nadink tydens ernstiger oomblikke.

Weens die Covid-19-pandemie is die oorspronklike produksie, Donkie, noodgedwonge aangepas na Steeds Donkie, waarin Opperman weer die rol van die skoolhoof, mnr. Barry Swart, vertolk.
LEES OOK: PROGRAM: Vermaaklikheid om oor bos te gaan inniMall
As hoof van Hoërskool Hans Oosthuizen is hy uitgebrand, suf geslaan en gebombardeer. Mnr. Swart oorweeg om te bedank, maar een Maandagoggend tydens saalopening besluit hy om sy kant van die saak te stel.

Dit is ’n produksie met humor, fyn waarneming, subtiele kommentaar en absolute deernis, dat almal hulself daarin sal kan verkneukel.
LEES OOK: IN FOTO’S: Dié leerders ken van kuns en voor ‘n gehoor praat






