Vele hande maak ligte werk
’n Groep vrywilligers het besluit om self hande uit die moue te steek en vullis langs die dorp se toegangspaaie op te tel.
Die projek het reeds in April begin met die Lydenburg/Mashishing Sakekamer se PRIDE-dag. Verskeie sakeondernemings het toe ingespring. Sommige inwoners het ook positiewe kommentaar op Facebook gelewer oor die groep wat die duikweg in Voortrekkerstraat skoongemaak het.
Op Saterdag 18 September het hulle die Dullstroom-pad vanaf Lodge Laske Nakke tot by die bruggie voor Jock’s Country Stalls in Viljoenstraat skoongemaak. “Ons spreek ons dank uit teenoor elke persoon wat kom hand bysit het. Tot ’n tweejarige het haar ouma vir ’n rukkie gehelp. Dit was harde werk. Ons doen dit soos ons tyd kry en soos vrywilligers beskikbaar is. Ons nooi die dorp uit dat elke inwoner sy verantwoordelikheid nakom. Ons hoop almal spring in waar hulle nood sien en waar vullis ophoop,” het Nicolene Pienaar, een van die vrywilligers, gesê.

AfriForum het vir hulle die reflektorbaadjies en handskoene geborg, asook die petrol vir die randsnyers; die groep het van hul eie randsnyers gebruik gemaak. Barco het ook bottels water vir Saterdag geborg, en ’n vriendelike inwoner het vir almal die middag koeldrank gebring.

Van die vrywilligers wat ingespring het.
