Local newsNews

PROGRAM: Vermaaklikheid om oor bos te gaan inniMall

Maak los die Covid-knoop uit jou feesbolla, want dit is tyd vir Gaan Bos inniMall saam met Innibos Nasionale Kunstefees en i'langa Mall.

Feestelikhede skop reeds vandag af, tot Saterdag, 25 September, en daar is musiekopvoerings, toneelstukke, boekbekendstellings, komedie, kuns en nog allerlei verrassings.

Al die aanbiedings sal streng volgens Covid-19-regulasies wees, dus kan dié wat bos wil gaan nie bekostig om gras onder hulle voete te groei om kaartjies in die hande te kry nie. Sosiale distansiëring, die dra van maskers en die aantal persone per lokaal sal deurlopend toegepas word.

Van die hoogtepunte op die program is die musiekkonserte elke aand by die piazza en die ingang na die vermaakarena, die entrance@entertainment. Majozi, Ross Learmonth van Prime Circle en Elvis Blue tree by laasgenoemde op.

Mense moet sitplekke bespreek by die onderskeie restaurante (Spur, RocoMamas, Mediterranean en Salsa) in dié sentrumvleuel.

By die piazza tree Loki Rothman, Vivid Paradox, Wanda Zonke, Coenie Naudé en Refentse op. Die Korona Kielie-konserte met komedie uit die boonste rakke is nóg ‘n hoogtepunt. Frank Opperman is te sien in Steeds donkie en Dowwe Dolla, wat haar beplande swanesang verlede jaar moes uitstel, kom sê ‘n Laeveldse koebaai.

ALSO READ: Geniet ‘n teetjie met Lizz Meiring

Wynand von Vollenstee is te sien in Geen salf te smeer nie waarin hy ieder en elk se keelvolheid verwoord, en Schalk Bezuidenhout kan gehoor word in Schalk sing sleg. Toneelliefhebbers wat destyds die Innibos-vertoning van teaterdoyenne Sandra Prinsloo in Oskar en die pienk tannie misgeloop het, moet sorg dat hulle beslis hierdie vertoning bywoon.

Lizz Meiring is die gasvrou by ‘n damesoggend. Boekbekendstellings van plaaslike skrywers, sowel as van Marinda Engelbrecht se Marinda kook! en Susan Coetzer se Die uil in die ysbos sal plaasvind, en ‘n kunsuitstalling onder kuratorskap van John-Anthony Boerma sal die winkelsentrum ‘n anderwêreldse atmosfeer gee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button