Oskar en die pienk tannie: ’n almal-in-een deur Sandra Prinsloo
Prinsloo se skitterende vertoning het menigte gehoorlede meer as net een traan laat pink.


Dis nie aldag wat Laevelders (en dié wat van ver gereis het) die kans kry om meer as 10 karakters, meesterlik deur een aktrise vertolk, te leer ken nie.
Sandra Prinsloo was nie net die 10 jarige seuntjie met kanker, Oskar, nie, maar ook ouma Rosa (die pienk tannie) wat hom help grootword binne twaalf dae. Daarby was almal anders, van hospitaalpersoneel tot Oskar se ouers, en ook sy vriende in die hospitaal, Braaivleis, Popcorn en Einstein.
LEES OOK: KYK: Susan Coetzer kuier ’n uil uit ’n ysbos by Innibos
Met net ’n bankie-hospitaalbed op haar verhoog, maak Prinsloo elk van hierdie karakters haar eie.

In die hospitaal het almal name wat by hulle kondisies pas; Braaivleis het brandwonde, Popcorn (byna net so jonk soos Oskar) weeg 98 kg en is net so lank soos hy dik is, en Einstein het weer water op die brein wat sy kop amper twee keer sy oorspronklike grootte maak.
Wat ouma Rosa van die res onderskei is dat sy nooit vir Oskar jok of haar doof hou vir hom nie.
Oskar meen almal is doof in die hospitaal as jy die woorde “dood gaan” gebruik, maar nie ouma Rosa nie. Toe hy haar vra hoekom niemand hom wil antwoord wanneer hy vra of hy gaan doodgaan nie, sê sy: “Maar as jy weet jy gaan doodgaan, hoekom moet mense dit vir jou sê?”
LEES OOK: Kaalgat Karel ’n wegholsukses by Gaan Bos inniMall
Sy moedig hom aan om vir God te begin briewe skryf en oortuig hom dat hy binne 12 dae die hele lewe kan ervaar.

Die dokter gee haar toestemming om buite die besoekersure vir die volgende 12 dae vir hom te kom kuier – hy het 12 dae oor om te lewe; elke dag verteenwoordig 10 jaar.
LEES OOK: Dowwe Dolla groet die Laeveld met vertoning by Gaan Bos inniMall
In daardie 12 dae leer hy liefhê, leer hy was dit is om die nagevolge van jou aksies in die gesig te staar, leer hy om sy ouers te vergewe omdat hulle sukkel om hulle liefde vir hom uit te druk, en hy leer, deur sy briewe, om al sy sorge voor God se voete neer te lê.




