Schalk sing sleg en spaar niemand
Tydens sy tweede verskyning by Gaan Bos inniMall het Schalk Bezuidenhout sy “sangtalent” op die planke gebring.


Schalk Bezuidenhout en sy band het het gesorg vir meer as genoeg humor in Ster-Kinekor se teater 4 vroeër vandag, 25 September.
Die vertoning, Schalk sing sleg, verkoop geen leuen in die titel nie, soos Bezuidenhout self ook vir die gehoor gesê het. Dink só daaraan: ’n komediant wat sy grappies sing, maar effe van noot af.
LEES OOK: Oskar en die pienk tannie: ’n almal-in-een deur Sandra Prinsloo
Voor elke lied het Bezuidenhout so ‘n bietjie konteks verskaf, en dan weggetrek met die begeleiding van Wesley van der Westhuizen op die sleutelbord, die kitaar en soms as ’n ondersteunende singstem vir die hoofsanger.


G’n siel in die gehoor of die algemene vermaaklikheidswêreld word gespaar nie; die gehoor kon inderdaad punte kry vir hul deelname. Verder het elkeen van Koos Kombuis en Steve Hofmeyr tot Appel en Kurt Darren deurgeloop onder Bezuidenhout se grappies.

Soos die vertoning einde se kant toe gestaan het, het Bezuidenhout eers van sy pak se baadjie en toe sy hemp ontslae geraak; die laaste ontkledingsaksie was as nabootsing van Spoegwolf se hoofsanger, Danie du Toit.

Twee gehoorlede se aktiwiteite deur die loop van die dag het sommer ook daar en dan in ’n liedjie verander.
LEES OOK: Marinda kook maklik en uit die hart
Bezuidenhout was ook vroeër hierdie week te sien by die première van die nuwe fliek, Kaalgat Karel, waarin hy speel.








