Dis huis toe met Wihan, vir nou
Dit staan nou al nader aan byna 100 dae na sy ongeluk op die R40, en behalwe vir die opgewondenheid om in sy eie bed te kan slaap, is die volgende mylpaal waarna hy uitsien om sy prostese te ontvang.
Wihan de Jager is na meer as ‘n maand van rehabilitasie uit M-Care ontslaan en is reg vir wat vir hom voorlê na sy linkerbeen geamputeer is.
Die amputasie het gevolg na hy aan die einde van Junie in ‘n gru- tref-en-trapongeluk met sy motorfiets op die R40 betrokke was.

Hy het in die ongeluk verskeie beserings opgedoen en het minstens ses letsels om daarvan te getuig, maar die grootste hiervan is die amputasie.
De Jager het op 11 Augustus sy rehabilitasie begin en is op 23 September huis toe, net betyds om braai op Erfenisdag te kan geniet.
In ‘n motor in die parkeerarea buite M-Care vertel hy hoe hy sy rehabilitasie-reis ervaar het.
“Dis baie lekker om uit te wees, maar ek gaan ook die plek mis. Hulle het mooi na my gekyk en ek het baie geleer.”
Lees ook: Kosbare verhale oor oudleerders maak LHS se eeufeesviering meer spesiaal
Dit staan nou al nader aan byna 100 dae na sy ongeluk, en behalwe vir die opgewondenheid om in sy eie bed te kan slaap, is die volgende mylpaal waarna hy uitsien om sy prostese te ontvang.

“Ek het eers gewag om te kan huis toe gaan, nou wag ek vir die prostese. Nou wil ek eintlik net weer terugkom om te leer loop,” het hy laggend oor die situasie opgemerk.
“As die prostese kom dan gaan ek weer ‘n week of twee hier wees om te leer loop en trappe klim en so.”
Gedurende sy tyd by M-Care het hy baie gewerk aan balans en om sy regterbeen sterker te maak. Sy arms het ook aandag geniet om sy rolstoelbewegings makliker te maak.
“Ek gaan leer om self by die huis vir my kos te maak omdat ek goed kan balanseer. Ek het darem al self vir my koffie gemaak hier, so dis ‘n goeie begin.”
By die huis lê daar vir hom drie maal per dag oefeninge voor. Net voor hy uit M-Care ontslaan is, het die personeel ook vir sy ma, Willa, gewys hoe om te help as hy byvoorbeeld sou val en weer moet opkom. Sy is maar effe op haar senuwees vir haar seun se terugkeer, maar bowenal dankbaar.

“Ek is emosioneel, maar ek is orraait. ‘n Ou weet nie wat om te verwag nie; hier het hy 24 uur iemand gehad; by die huis gaan ek met tye moet uitgaan omdat ek werk, en dan is hy op sy eie.
“En ek weet nie hoe hy iets gaan hanteer as hy byvoorbeeld vir die eerste keer wil sê, ‘Ma, ek wil die bakkie leen, ek wil gou ry,’ en hy besef hy kan nie net in ‘n bakkie klim en ry nie; daardie tipe goed.
“Maar ek is bly. My kind lewe en hy kom uiteindelik huis toe. Ons het baie om voor dankbaar te wees. Daar is baie goed vir ons gedoen en gegee om vir hom ‘n kamer reg te maak waar hy gemaklik kan wees. Ek weet nie hóé nie, maar ek moet almal nog bedank. Mense moet weet daar is nog mense met goeie harte.”
