Local newsNews

Skrywerslypskool skop af op Kaapsehoop

Dr. Riana Scheepers bied hierdie week van 4 tot 8 Oktober ’n skrywerskursus aan wat deel vorm van die Innibos Nasionale Kunstefees.

Dié kursus het vandag in Kaapsehoop afgeskop met die bekroonde skrywer, dr. Riana Scheepers.

Wilhelmina Adriana (Riana) Scheepers is op 9 Desember 1957 op Vryheid in KwaZulu-Natal gebore. Sy matrikuleer in 1975 aan die Hoërskool Vryheid. Sy behaal ‘n BA-graand in kommunikasiekunde, en BA Hons en MA in Afrikaans – almal cum laude aan die Universiteit van die Vrystaat.

LEES OOK: Dis huis toe met Wihan, vir nou

Sedertdien was Scheepers ’n dosent by die Universiteit van Zoeloeland en Kaapstad, ‘n skakelredakteur by Tafelberg Uitgewers en ’n onderwyser by Paul Roos Gimnasium.

In 1997 behaal sy ’n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad.

Sy debuteer in 1990 met die kortverhaalbundel, Die ding in die vuur, wat met die ATKV- en FAK-prys bekroon word. In 1992 ontvang sy die Eugène Marais-prys vir haar tweede bundel, Dulle Griet. Sedertdien is haar boeke topverkopers in Suid-Afrika en die buiteland.

Die kursusmateriaal word verskaf en die kursus self behels die volgende:
• Kennismaking met verskeie voortreflike belletristiese tekste. Nie net literêre tekste nie, maar ook advertensiekopie, slagspreuke, sms-boodskappe, doodsberigte, lirieke, briewe, resepte en graffiti. Ons luister ook na musiek en doen vertalings uit Middelnederlandse tekste.
• Voltooiing van verskeie opdragte tydens die kursus en ook langtermynopdragte.
• Die filosofie van kreatiwiteit – vrae soos: Wat is kreatief? Wie is kreatief? Is ek ’n skrywer of nie?
• Identifikasie van ’n persoon se natuurlike genre en tema, op daardie gegewe tydstip van sy/haar lewe.
• “Skrywersgeheime” – ’n bietjie oor die werk en die truuks van die skrywer. Byvoorbeeld, hoe oorkom jy skrywersdroogte (writer’s block).
• Die kwessie van kritiek – hoe gee jy dit, en belangriker, hoe hanteer jy dit?
• Werkswinkel: bespreking van geselekteerde skryfstukke uit die klas. Dit is die belangrikste gedeelte van die kursus!
• Langtermynopdragte.

LEES OOK: IN FOTO’S: Hoërskool Nelspruit hou matriekafskeid

Vrydagoggend sal daar ook bykomende praatjies deur dr. Nicol Stassen en Gielie Hoffmann wees.

Stassen, die eienaar van Protea Boekhuis, gaan meer van die werkverhouding tussen skrywers en uitgewers vertel. Hoffmann, ’n lewensafrigter, gaan op sy beurt verduidelik hoe om te bly skryf, van planne tot platforms tot publikasie.

Dr. Stassen is die besturende direkteur van Protea Boekhuis. Hy doen al meer as ’n dekade lank navorsing oor die Dorslandtrek en die Angola-Boere. Hy het ’n BA-graad in tale, ’n meestersgraad in chemiese ingenieurswese en ’n doktorsgraad in geskiedenis. Hy is ook die skrywer van Afrikaners in Angola1928–1975 (2009), The Boers in Angola, 1928–1975 (2010), William Chapman – Reminiscences (2011) en Die Dorslandtrek 1874-1881 (2015).

LEES OOK: MTPA adamant to take over World Heritage Site

Gielie Hoffmann werk met atlete, sakeondernemings en kreatiewe entrepreneurs om meer veerkragtig, suksesvol en gesond te wees.
Tussendeur skryf hy deurlopend en sy werk verskyn in BeeldRapportVryeweekblad, LitNet, PlattelandInsig en De Kat.
Van sy sketse en kortverhale is opgeneem in verskeie bundels.
Hy tree gereeld as gas op vir radio- en televisieprogramme en is inhoudsregisseur vir My Berge met Bouwer (Bosch) op Via.
Sy eerste roman verskyn in 2022 asook ‘n memoir, #GeenFilter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button