Baba Ayden net betyds tuis vir eerste verjaardag
Nadat Ayden van Niekerk (11 maande) vir maande gehospitaliseer was, brand die vreugdevure op Lydenburg hoog.
Hy is op Woensdag 27 Oktober uit die Netcare Garden City Hospitaal in Johannesburg ontslaan.
Duisende mense het op spesiale gebedsgroepe wêreldwyd vir sy herstel gebid.
Ayden het op Donderdag 6 Mei ophou asemhaal en is per helikopter van Lydenburg na die hospitaal gevlieg, waar hy sedertdien in die intensiewesorgeenheid behandeling ontvang het.
Die dokters het hom met hipoksie van die brein gediagnoseer. In leketaal is dit ‘n kondisie waar die brein nie genoeg suurstoftoevoer kry nie.

Dr. Miles Bartlett was een van die pediaters wat by Ayden se gekompliseerde geval betrokke was. Hy was ook betrokke by die klein vegtertjie Pippie Kruger se mediese geval; sy het op Oujaarsaand 2011 met jelvuuraanstekers brandwonde oor 80% van haar liggaampie opgedoen.
Estelle van Niekerk, Ayden se ma, is veral dankbaar dat Ayden se ontslag net betyds is vir sy eerste verjaardag op Maandag 1 November.
“Hy het so goed op die terapie in die intensiewesorgeenheid gereageer dat die dokters gesê het ons kan hom maar huis toe neem. Hy het nog net sy voedingspyp in. Hierdie mamma se hart is baie bly,” het Van Niekerk gesê.

Sy en haar verloofde, Ayden se pa, Sarel Nortjé, gaan om die beurt vir Ayden tuis versorg. Haar ma, Elize van Niekerk, gaan ook handjie bysit. Met volgehoue arbeidsterapie en hulp sal hy nou mettertyd weer leer botteldrink en leer eet. En hopelik oor ‘n kwessie van ‘n paar maande sal sy voedingspyp ook verwyder kan word.
“Ek wil net vandag ook vir my werkgewer, Martin Smith van Plastiflow en Online Global Supplies in Lydenburg, bedank dat hy soveel verlof die afgelope paar maande toegestaan het. My werk, ons gebedsgroep en vriende het absoluut laer getrek om ons,” het Van Niekerk gesê.
Alle verdere behandeling wat Ayden ontvang moet self deur die familie betaal word as dit nie deur die mediese fonds goedgekeur word nie.
As iemand wil bydra om sy eerste verjaardag ekstra spesiaal te maak of vir sy terapie ‘n skenking wil maak, WhatsApp Estelle van Niekerk by 084 897 1861.
’n Back-a-Buddy-fonds is ook deur vriende en familie vir die Van Niekerk-gesin gestig.
