250 sakke vol vullis verwyder langs Kaapsehoop-pad
Die idee het gespruit van La Roi Landgoed se inwoners en teen die einde het verskeie rolspelers die dag moontlik gemaak.
‘n Span inwoners van dié stad het douvoordag Saterdag in die pad geval om een van ons hoofstrate minder van ‘n oogseer te maak.
Gewapen met swartsakke en handskoene het ‘n handjievol mense dit op hulself geneem om vullis al langs die Kaapsehoop-pad te verwyder.

Ongeveer 250 sakke vol glasbottels, maskers, sigaretboksies en soveel meer was die resultaat van die sowat vyf uur lange skoonmaakoperasie. Die hele gedeelte tussen Belladonnastraat en die ou lughawepad is skoongemaak. Daarna is helpers met worsbroodies beloon.

Die idee het gespruit van La Roi Landgoed se inwoners en teen die einde het verskeie rolspelers die dag moontlik gemaak.

LEES OOK: IN FOTO’S: Duikeenheid dogtertjie se nuwe helde toe hulle haar fiets uit dam red
Sakkie Viljoen sê: “Daar was wonderlike hulp van Ndlovu Skips and More en E-moji Skips. Verder het Uniwisp sakke opgetel en in die skips gegooi, Vleispaleis en Belladonna Slaghuis het wors geskenk en Courtside SPAR het worsrolletjies teen ‘n beter pys gegee.

“Deeghuys, Engen Belladonna, Oasis en Rooikat het gehelp met water, ys en koeldrank. Must Paper en BUCO het plastieksakke geskenk.
“BUCO, Lakeview Lodge en Friends Café het ook geldelike skenkings gemaak, terwyl Friends ook van hulle werkers gestuur het. En Thea Rix het gehelp met bemarking.”
Viljoen sê dit was ‘n uitputtende taak, maar die tevredenheid van die eindresultaat het alles die moeite werd gemaak. “Ons beoog om dit op ‘n gereelde basis te doen.”

