Local newsNews

Marius Nel groet lughawe ná 20 jaar, gereed vir nuwe uitdagings

Van die eerste graaf die grond by die toekomstige Kruger Mpumalanga Internasionale (KMI) Lughawe gedelf het tot die suksesvolle onderneming wat dit vandag is, was Marius Nel (50) daar.

Van die eerste graaf die grond by die toekomstige Kruger Mpumalanga Internasionale (KMI) Lughawe gedelf het tot die suksesvolle onderneming wat dit vandag is, was Marius Nel (50) daar.

Nou, ná 20 jaar, is Nel opsoek na ‘n nuwe uitdaging terwyl hy terselfdertyd iemand anders ‘n kans wil gee om nuwe wind in die seile van die lughawe te blaas. Hy sal finaal in Februarie 2022 die kantoor van die besturende direkteur en uitvoerende hoof van dié lughawe verlaat.

Marius Nel was daar toe die eerste graaf die grond gedelf het om die KMI Lughawe te bou.

“Ek kry die indruk dat ek in die Laeveld bekendstaan as ‘Marius KMIA’ of ‘Marius Lughawe’; dit kan só absurd raak dat ek eendag die lughawe se logo op my grafsteen moet sit. Dis tyd vir ‘n nuwe uitdaging vir ‘n vars siening in die lughawe, en so ook vir my,” het hy grappenderwys vertel.

“In 2001 het ‘n personeel-agentskap my geskakel en gevra of ek bewus is van die lughawe wat gebou gaan word. Ek het ja geantwoord, maar soos talle Nelspruiters in daardie stadium het ek gedink dis ‘n wit olifant en dat dit nie gaan gebeur nie,” het Nel aan Laevelder gesê.

Marius Nel verlaat binnekort die kantoor van die besturende direkteur en uitvoerende hoof van die KMI Lughawe. > Foto’s: Andrea van Wyk

Hy het vir ‘n onderhoud gegaan en eindelik die pos as finansiële bestuurder van die destydse Primkop Lughawe aanvaar.

“Op 16 Junie 2001 het ons die eerste graaf in hierdie stuk grond gedruk. In ‘n rekordtyd van 16 maande het ons ons eerste vlug hier by die lughawe gehad. Uit ‘n ingenieursoogpunt was dit ‘n wonderwerk. Die projek het R350m gekos en om dit in 16 maande te voltooi was ‘n wonderlike ervaring.

“Ons het toe die lughawe begin bestuur en ek het geen ervaring in lughawens gehad nie. Dit was ‘n hewige leerskool, maar baie interessant, uitdagend en uiteindelik baie bevredigend.”

In 2008 is Nel amptelik bevorder tot die pos wat hy tans beklee.

LEES OOK: IN FOTO’S: Duikeenheid dogtertjie se nuwe helde toe hulle haar fiets uit dam red

Volgens hom was daar talle hoogtepunte in sy loopbaan daar. Een daarvan was die eerste vlug wat op 21 Oktober 2002 daar gestyg het. “Om die aantal passasiers wat na die Laeveld gevlieg het te sien groei van 38 000 per jaar tot oor die 300 000 per jaar, was beslis ‘n hoogtepunt.”

Marius Nel was vir die afgelope 20 jaar betrokke by die KMI Lughawe.

‘n “Skelm lekkerte”, soos Nel daarna verwys, was om bekendes te ontmoet, onder andere Gary Player, Ernie Els, Bill Gates, Elton John, Elizabeth Hurley en George Michael.

Nel het ook ‘n diepe liefde vir die Laeveld en alles wat daarmee gepaardgaan. “Ek het probeer om myself deel te maak van ieder en elke ding wat ons in die Laeveld doen en wat ons uniek maak. Indien ek ‘n keuse mag hê, en ‘n mens weet nooit waarheen die lewe jou lei nie, sal ek nooit uit die Laeveld trek nie.”

Wat volgende vir hom voorlê is Nel self nog nie presies oor seker nie, maar dit sal beslis inskakel by sy sakeagtergrond en opleiding as geoktrooieerde rekenmeester.

KRUGER MPUMALANGA INTERNATIONAL AIRPORT

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button