‘n Groot boom van die Laeveld het geval: Dr. Frans Theron oorlede
’n Groot boom van die Laeveld het dié week geval met die afsterwe van die legendariese dr. Frans Theron (79). Hy het vir nege jaar ’n moedige stryd teen kanker gevoer voordat hy Donderdagmiddag by sy huis te Bateleur Landgoed oorlede is.

Dr. Theron sal deur baie onthou word as ’n uitnemende internis, maar sy lewensverhaal is een van ’n kleurryke man wat ’n akademiese uitblinker, goeie sportman, eggenoot, pa, oupa en storieverteller was. Sy eerste hoofstuk begin in Brakpan, waar hy gebore is.
Hulle het op Sabie gaan woon toe hy ’n jong kannetjie was, waar sy pa die eerste apteek op die dorp gevestig het. Hierna het die gesin in Reitz en op Zeerust gewoon, waar hy op 16-jarige ouderdom sy matriek voltooi het.
Hy het in 1960 MBChB aan die Universiteit van Pretoria studeer en op ouderdom 17 sy eerste jaar met onderskeiding geslaag.

Die geld was skraps en om sy studies te finansier het die jong Frans dikwels as ’n dubbelganger in Walt Disney-films gespeel, waarin hy meestal met ’n vriend se luiperd of leeu in ’n “geveg” betrokke was. Hiervoor het hy selfs in die Huisgenoot geëindig!


Kort nadat hy as dokter gekwalifiseer het, het hy in 1969 met Bea, wat verpleging studeer het, getrou. Vir drie jaar het die egpaar in die Caprivi-streek gaan woon waar dr. Theron op die oewers van die Okavangorivier gepraktiseer het.

Hul eerste seun, Johan, is hier gebore, en daarna is hulle Kaap toe waar dr. Theron by die Tygerberg-hospitaal deur die Universiteit van Stellenbosch in interne geneeskunde gespesialiseer het. In dié tydperk het hy die gebrek aan nooddienseenhede in Kaapstad geïdentifiseer en die eerste metro-eenheid is saam met dr. Allan MacMahon op die been gebring. Intussen is nog twee seuns, Paul en Francois, gebore. In 1977 het die Theron-gesin opgepak en teruggetrek na dr. Theron se Laeveld-wortels. Hiér het hy ’n privaatpraktyk opgerig en sy staatshospitaalsessies tussen Rob Ferreira-, Themba-, Shongwe- en Barberton-hospitale roteer.
LEES OOK: Marius Nel groet lughawe ná 20 jaar, gereed vir nuwe uitdagings
Selfs jare later, nadat die staatshospitale hul vergoeding gestaak het, het hy steeds pasiënte behandel. Hy was ’n kenner in die behandeling van malaria, maar het nie teruggedeins om enigiets van ’n keisersnit tot pediatrie aan te pak as hy ’n lewe kon red nie.
Dr. Theron het begin om paramedici op te lei en sodoende ook ’n paramediese dienste in die Laeveld gevestig.
“My pa het die volle 24 uur van elke dag benut. Ek weet nie hóé hy dit gedoen het nie,” het Johan Vrydag oor sy pa opgemerk. Die Therons het dit later as vanselfsprekend aanvaar dat hul pa nooit vir ’n oomblik homself van sy roeping sou skei nie.
“As ons met vakansie gaan, het ons geweet dat my pa by geen ongelukstoneel verby sou ry nie. Hy is die een wat gestop en lewens help red het. My pa was al in winkels, die kerk en op vliegtuie waar mense hartaanvalle kry of in nood is, dan spring hy in en doen sy werk,” sê Paul. Hy het selfs een keer op ’n vliegtuig ’n baba die wêreld in gebring!
Tydens vakansietyd in Hentiesbaai sou hy soggens vroeg visvang en dan die visdorpie invaar en mense behandel, asook elke dag sy saalrondes inpas. Bea vertel hoe hulle een jaar saam met vriende Botswana toe was en hulle op pad by ’n kampeerplek oorgeslaap het.
Die volgende oggend het dr. Theron by ’n bekommerde vrou gehoor dat haar man die vorige dag Ghanzi toe is omdat hy borspyne ervaar het. Net daar is die groep, wie se roete glad nie deur dié dorp sou ry nie, ook na Ghanzi waar hy die pasiënt gaan opsoek het. Hy het gou vir ’n EKG aangevra en kon die man die goeie nuus dat dit nie sy hart was nie, meedeel.

In die Laeveld was hy ’n bekende gesig langs die sportvelde waar hy in sy vrye tyd diens gedoen het. Dr. Theron het baie tyd bestee om mediese sorg by veral skolesport meer vrylik beskikbaar te maak.

Hy was self op sy dag ’n kranige sportman wat as student vir Tukkies aan spiesgooi en boks deelgeneem het. Hy het selfs in landloop gekwalifiseer om aan die Olimpiese Spele deel te neem, maar kon weens ’n besering nooit dié droom verwesenlik nie.
LEES OOK: 250 sakke vol vullis verwyder langs Kaapsehoop-pad
Een van sy grootste nalatenskappe in die Laeveld is Mediclinic Nelspruit, wat hy saam met kollegas drs. Jéan Nel sr. en Danie Louw begin het. As stigterslede van die destydse Hospiplan was hulle instrumenteel in die vestiging van wat vandag Mediclinic is. Die hospitaal eer dr. Theron op gepaste wyse deur sy vlae vir vyf dae halfmas te hang.
Met soveel passie vir die mediese veld, is dit geen verrassing dat sy seuns almal dié rigting gevolg het nie. Johan is ’n pulmonoloog in die Kaap, Paul is ’n internis in die Laeveld en Francois het sy eie fisioterapiepraktyk. Die Therons het sewe kleinkinders, Francis, Liam, Antoni, Mila, Isabel, Tahnea en Nina.

’n Gedenkdiens sal Dinsdagoggend om 10:00 by die NG Moedergemeente gehou word. Die familie het hul dank en waardering teenoor die onkoloog, dr. Henri Neethling, Mediclinic Nelspruit asook sy vele kollegas uitgespreek. “Hulle het my pa tot die einde bygestaan,” sê Francois.
Meer gepas as dié strofe uit Jan F.E. Cilliers se gedig kan daar nie wees as ’n mens die lewe van dr. Frans Theron vier nie:
Stil, broers,
daar gaan ’n man verby,
hy groet,
en dis verlaas.
Daar’s nog maar één soos hy;
bekyk hom goed.

’n Ode aan my oupa, deur Francis Theron:
Jou eelthande het my trekkertjies reggemaak. Omdat jy stadiger gestap het, kon ek byhou. Omdat jy minder gepraat het, kon ek meer hoor. Omdat jy tyd gehad het vir kyk, kon ekke meer wys. Dankie, Oupa, dat ek by jou kon afkyk. Jy het my geleer van genade, liefde, geloof, vergifnis, geduld en natuurlik boerdery. Dankie dat ek jou kleinkind kon wees, maar ek moet jou nou ongelukkig vir die Here teruggee. Dankie dat ek jou kon liefhê en dankie dat Oupa vir my oneindig lief was.
