Skoolloopbaan op glansryke wyse afgesluit
Om na die “stad van liefde” sonder ’n vlugkaartjie weggevoer te word, kos fyn beplanning en swierige fokuspunte.
Die De Ark Gastehuis het met ’n Parys-tema die matriekleerders van Lydenburg Leersentrum verwelkom. Franscis le Roux het die gastehuis op Vrydag 8 Oktober in ’n lushof vir hierdie spesiale aand omtower.
Lydenburg Leersentrum het vanjaar slegs 16 matrieks.
Daarom het hulle hul eweknieë wat die Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesserings Instituut-eksamens skryf, genooi om die spoggerige funksie saam met hulle te geniet. Leerders van Mbombela, Graskop en Komatipoort het by hulle aangesluit.
“Ons wens julle voorspoed toe op die volgende fase van jul volwasse lewens. Mag die toekoms so rooskleurig wees as waarmee julle jul skoolloopbane vanaand afgesluit het. Dankie ook aan Lorinda Kapp wat vir ons die foto’s geneem het, asook die ouers en borge wat hierdie aand so spesiaal gemaak het,” het Sharelyn Sutherland, direkteur van Lydenburg Leersentrum, gesê.
Die ouers en toeskouers se asems is behoorlik weggeslaan soos die eregaste met hulle praguitrustings op die rooi tapyt verskyn het.













