Stassen en Variawa maak saam ‘n gedugte span
Stassen neem al sedert 2002 aan tydrenne deel en beman gewoonlik die navigatorsitplek.
Jare gelede het die eerste gogga van spoed en motorsport vir Danie Stassen, die jongste toevoeging tot die Dakar-tydrenspan as deel van Toyota Gazoo, gebyt.
“Ek was nog ‘n baba en my broer, Joos, was 13 jaar ouer as ek. As ma Annetjie nie geloer het nie, het my broer my in die stootwaentjie al om die huis gestoot om te sien hoe vinnig hy dit kon doen.”
Stassen neem al sedert 2002 aan tydrenne deel en beman gewoonlik die navigatorsitplek.
Aan die begin van die jaar het hy noodgedwonge langs die bekende Suid-Afrikaanse bestuurder, Shameer Variawa, ingeskuif. Sy bestuurder het Covid onder lede gehad en Variawa se navigator was siek.

En binne die eerste paar tydrenne het beide besef hierdie vennootskap is hulle nog al die tyd beskore.
ALSO READ: Not an easy race for the Special Vehicle Category competitors
Hoewel dit nog altyd sy droom was om aan die Dakar, ‘n 9 000 km-roete deur die ergste woestynomstandighede denkbaar, deel te neem, het die realiteit hom eers verlede week getref toe hy en sy spanmaats die nuwe, meer geharde en gesofistikeerde Toyota Hilux aan die tydren-wêreld by die Toyota-hoofkantoor in Johannesburg bekendgestel het.
“Dit is soms nog so onwerklik dat ek myself moet knyp om te besef dat hierdie ‘n werklikheid is,” vertel Stassen.
Volgens hom is twee van die grootste verbeteringe wat aan die Toyota-bakkie aangebring is, dat die onderstel nou 350 mm meer speling het. Dit help veral dat die rowwe terrein se genadelose aanslag op die voertuig nie so groot is nie.
“Die voertuig het ook groter wiele gekry, van 32 duim na 37. Die grootste voordeel hiervan is dat daar nie so baie pap bande opgedoen behoort te word nie.
“Verlede jaar het Giniel (de Villiers) met sy 32 duim wiele meer as 26 pap wiele gehad. Dít teenoor die Mini wat met 37 duim wiele slegs vier gehad het. As daar in berekening gebring word dat dit gemiddeld twee minute vat om ‘n pap wiel om te ruil, het Giniel-hulle bykans ‘n uur aan rentyd verloor,” sê hy.
Stassen glo die sukses in tydren is dat daar ‘n absolute vertroue tussen die bestuurder en die navigator moet wees. En dit is iets wat hy en Variawa binne enkele maande ontwikkel het.
ALSO READ: Grecale – the energy of Maserati
Een van sy grootste uitdagings by die Dakar gaan die rol wees wat hy as navigator moet vertolk. “Instruksies moet vinnig en akkuraat deurgegee word, op so ‘n wyse dat die bestuurder te alle tye ‘n denkbeeldige prentjie het van presies wat binne die volgende paar minute gaan gebeur.”
Vir hulle is die grootste uitdaging om altyd net hulle beste te gee.
“Omdat julle in die middel van nêrens is en niks van die ander spanne hoor nie, is dit elke aand maar ‘n gewag en kyk wat die dag se uitslae oplewer. Binne ‘n dag kan die hele prentjie verander. Streng gesproke is die Dakar maar eintlik ‘n resies teen jouself,” filosofeer hy.
Die Toyota-span vertrek op 24 Desember na Saoedi-Arabië waar die Dakar vanjaar gaan plaasvind.
Dan het hulle nege dae om behoorlik te akklimatiseer en voor te berei voor die wegspringskoot op 2 Januarie klap.
Die wedren eindig op 14 Januarie.
Intussen is Stassen voorlopig terug in die gimnasium waar hy aan sy fiksheid en sy sielkundige voorbereiding werk.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
