Local newsNews

Pad word nie verniet ‘gaatjiespad’ genoem nie

Die berugte Olifantspoortjiepad (D737) staan ook as die gaatjiespad bekend.

Die stuk pad tussen Lydenburg en Steelpoort se toestand het firmas, wildsplase en boere genoodsaak om hand in eie sak te steek en die herstelprojek aan te pak.

Reinhardt Transport het reeds 30 ton teer ter waarde van R100 000 geskenk. Werner Smulders, bestuurder van Lapeng Lodge, het gesê die groep wat die projek beplan, moet nog R50 000 insamel om self die kostes te dek.

Motoriste word aangeraai om die D737 te vermy indien moontlik.

Daarvoor beoog hulle om onder meer volgende jaar ’n gholfdag te hou. In die eerste fase van die herstel, word gepoog om die teer te red en dié dele te beskerm wat nog rybaar is. Die tweede fase is sowat drie kilometer lank en reeds ’n grondpad met sinkplate wat feitlik ongangbaar is.

Dit gaan die gemeenskap minstens R5 miljoen kos om hierdie fase aan te pak en die pad te herstel. Die Limpopo Padagentskap, beter bekend as die Road Agency Limpopo (Ral), het reeds aangedui dat dit nie in hulle begroting val nie.

 

“Ons hoop Ral sal die projek op die langtermyn oorneem en dit heeltemal oorbou. Ons benodig fondse en nog hulp. Met die geld wat ons as donasies kry, wil ons ook waterkarre en skrapers huur om op ’n gereelde basis die pad te diens en in stand te hou. Ons bedank graag almal wat help. Maatskappye het nuwe waarskuwingsborde geskenk, toerusting, diesel, rollers, teer, arbeid, oorpakke vir die werkers en verskeie kontantdonasies is gemaak,” het Smulders gesê.

Die manne en vroue agter die projek kla oor hul veiligheid en voertuie wat duisende rande se skade opdoen deur op die D737 te ry.

Lees ook: Steelburger/ Lydenburg Nuus, Donderdag 2 Desember

 

Bernice Loots moet noodgedwonge die pad op ’n tweeweeklikse basis gebruik om haar kinders skool toe te vervoer.

“Dis ’n aaklige pad om te ry. Ek ry reeds ’n voertuig wat redelik hoog is, maar dit help niks nie. Jy moet óf deur die reusegate jaag óf noodstoppe voor dit uitvoer om botsings te vermy. Die toestand van die pad is belaglik. Dit is alles goed en wel dat hulle dikwels sand inry en die pad skraap, maar ek sal sê dit is amper net so gevaarlik. Voertuie gly in die los sand. Die sinkplate op sekere dele het ’n rowwe impak op ons voertuie,” het Loots gesê.

Om by die projek betrokke te raak, skakel Smulders by 083 481 4912, e-pos werner@ lapenglodge.co.za of sluit by die Facebookgroep “Fix the D737” aan.

Werkers besig met die herstelwerk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button