70 jaar: Paartjie die toonbeeld van hóé dit gedoen word
Oom Gerrit en tannie Ria Cloete het mekaar in 1949 in die destydse Witbank ontmoet. 'n Reeks kinders, kleinkinders en agterkleinkinders later, het hulle op 1 Desember hul 70ste huweliksherdenking gevier.
Vier kinders, 18 kleinkinders en 10 agterkleinkinders later, is oom Gerrit (91) en tannie Ria (89) Cloete nog sedert 1951 al die jare saam.
Op 1 Desember het dié paartjie hul 70ste huweliksherdenking gevier. Hulle bly tans by hulle enigste seun uit die vier kinders, Fanus Cloete, wat in ‘n onderhoud met Laevelder ‘n blik op hul lewens gewerp het. Die Cloetes het in 1949 in die destydse Witbank ontmoet toe oom Gerrit, wat toe as loodgieter by die spoorweë gewerk het, ‘n warmwaterstelsel by tannie Ria se huis moes gaan herstel. Twee jaar later is hulle getroud.
Vanjaar, op wat eintlik ‘n dag van herdenking moes wees, is tannie Ria met hartprobleme en een van haar dogters met ‘n skouerbesering in die hospitaal, en die feesvieringe is noodgedwonge uitgestel.
Fanus sê, “Wanneer almal weer (hopelik binnekort) gesond is, sal ons ‘n feesmaal reël as oom Cyril ons gaan toelaat.”
LEES OOK: Pad word nie verniet ‘gaatjiespad’ genoem nie
Die geheim agter ‘n huwelik wat so lank hou is glo samewerking en kommunikasie, sê Fanus. “Dinge was moeilik met so ‘n groot familie. As ek reg onthou het hulle met ‘n fiets hul eerste trek na ‘n nuwe blyplek gedoen.
“Wat besonders is, is die feit dat, ongeag moeilike tye af en toe, hulle vasgebyt en dinge deurgewerk het, en mekaar ondersteun. Dit is vir ons as kinders ‘n groot voorbeeld. “My pa het met die spoorweë baie uithuisig gewerk, en my ma het maar werkies in die huis gedoen en kinders grootgemaak. “Hy het ook goed kopgehou en baie ekstra werk gedoen om te sorg vir ons. Hy het die geld ingebring en altyd volgens ‘n begroting gewerk – iets wat ons by hom geleer het. “Ma was baie goed met naaldwerk en het vir baie vroue klere gemaak vir ‘n inkomste. Sy het ook klere vir ‘n groot klerewinkel, Conley’s, gemaak. “Sy was ook baie goed met breiwerk. Al ons klere en truie was so te sê deur haar hande; ons het altyd genoeg gehad.”
Behalwe vir die huidige gesondheid-struikelblok, sê Fanus hulle is eintlilk albei nog baie gesond. Oom Gerrit het ‘n rare oogprobleem, optiese atrofie, wat hom gedwing het om vroeg af te tree. Hy het tans slegs 3% sig, en toe hy nog bestuur het, was tannie Ria eintlik maar sy oë. Hy moes tog ophou bestuur.
Hierdie gebrek keer hom egter nie om sy liefde vir tuinmaak uit te leef nie. Fanus lag en sê hy plant vandag ‘n ding en spit hom môre weer om. En moenie dink die sig keer dat hy nog tot op die sent weet wat met die geldsake aangaan nie. Hy sê beide van hulle is maar hardkoppig, maar baie lewenslustig. “Hulle maak saam kos en doen huistakies. Ma was nog wasgoed en Pa hang op. Hulle bene wil nie meer nie, maar dit hou nie op nie.
“Ek het hulle beide gedwing om met kieries te loop om net die vallery te verminder.” Soos Fanus aan hul kinderjare terugdink, onthou hy Ma se uitstekende kookvernuf en Pa se bereidwilligheid om te help. “My ouers was middelklasmense, altyd opreg en eerlik en altyd gasvry en mededeelsaam. “Ons was streng volgens Bybelse beginsels grootgemaak en as enigste seun het my gat omtrent elke dag gebrand.”
Oom Gerrit was glo ook ‘n bobaas swemmer, en het nie net sy eie kinders en van die kleinkinders geleer swem nie, maar ook sommer destyds die hele buurt s’n.
