Local newsNews

Innibos keer terug met mag en mening

Die lang verwagte somersfees, Bietjie-bietjie-Bos, het Woensdag, 2 Desember afgeskop. Hier is 'n paar wenke om jou fees werklik tops te maak.

MBOMBELA – Onthou die feesterrein by Hoërskool Bergvlam maak elke dag eers om 16:00 oop voor die onderskeie aandkonserte op die Standard Bank-verhoog begin.

Op Vrydag 3 Desember is dit die Kliphard kykNET Konsert met onder andere Spoegwolf, Elandré Schwartz en Francois van Coke. Karlien van Jaarsveld, Karen Zoid en Snotkop is van die kunstenaars in die kykNET Bietjie-bietjie-Bos Konsert op Saterdag 4 Desember. Sondagaand 5 Desember is dit die Kersloffees met topkunstenaars, waaronder Jannie Moolman en Wynand en Chereé.

Jou toegangskaartjie sluit gratis parkering op die feesterrein in. Kaartjies vir Vrydag en Saterdag kos R220 per persoon per aand. Toegang na die Kersloffees kos R50, wat aan liefdadigheidsorganisasies geskenk sal word.

Spoegwolf.

Feesgangers moet hul eie kampstoele of ‘n kombers saambring, en bring liefs ‘n sambreel of reënbaadjie saam. Watertandgeregte sal by verskeie kosstalletjies beskikbaar wees, en in die biertuin gaan daar gesellig gekuier word; daar is ook uitsoekstalletjies wat ‘n verskeidenheid produkte te koop sal aanbied.

Ingevolge die heersende Covid-19-regulasies word slegs 2 000 feeskaartjies vir die aandkonserte verkoop, so moenie langer wag om jou kaartjies by Computicket te bespreek nie. En onthou die maskers! Kaartjies vir die feesterrein is ook elke dag hierdie week vanaf 09:00 tot 17:00 in die opwipkaartjiekantoor by Limetime, Sonpark-winkelsentrum, te koop. Slegs kaarttransaksies – geen kontant.

Die volledige program is by innibos.co.za. Teken in op die Innibos-nuusbrief, Tjirp, op die webtuiste om seker te maak jy kry die jongste feesnuus.

Hou Laevelder se Facebook-blad dop vir die jongste hieroor, regstreeks vanaf die feesterrein.

• Vrydag 3 Desember: Kliphard kykNET Konsert
Met Francois van Coke, Elandré Schwartz, Robbie Wessels, Spoegwolf, Coenie Naudé en 0260
Prys: R220
• Saterdag 4 Desember: kykNET Bietjie-bietjie-Bos Konsert
Met Snotkop, Karlien van Jaarsveld, Rooksein, Karen Zoid, Pieter Koen en Anne Mari
Prys: R220
• Sondag 5 Desember: Kersloffees
Met Germandt Geldenhuys, Jannie Moolman, Chris Else, Wynand en Chereé Strydom en Leon Ferreira
Prys: R50

Francois van Coke. > Foto’s: Innibos

Honger vir drama?

Daar is dramaproduksies in die Mbombela Stadsteater en ook spesiale vertonings van Groet die Grotman 2 in die Sudwala-grotte.

Leefstyl, boeke en kuns

Daar word ‘n interessante wynproe en oulike handwerk-werkwinkels aangebied. Dan is daar ook nog boekbekendstellings, ‘n kunsuitstalling, ‘n straatparade en die interessante Kasi Experience waar jy Afrika-kos en -kuns by Urban House kan beleef!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button