Die geheimenis van Halssnoersingel 124A
Die huis het onlangs weer die sosiale mediakringe aan die gons gehad, soos die stedelinge daaroor gewonder, geskinder en gekoer het.

Halssnoersingel 124A. Sonheuwel se befaamde “spookhuis”.
Of dalk nie? Dit is een van die gerugte wat nou al jare lank onder Halssnoersingel se mense die ronde doen, omdat dié statige dubbelverdiepinghuis ook nou al jare leegstaan.
Die huis het onlangs weer die sosiale mediakringe aan die gons gehad, soos die stedelinge daaroor gewonder, geskinder en gekoer het.
Een van die vreemdste stories wat op Facebook vertel word, is dat daar ‘n moord in die huis was en die stukkende ruit is as gevolg van die koeëlpunt wat daardeur is. En nou spook die oorledene daar!

Die outeur van die brokkie het later erken dit is nie waar nie, maar dat sy maar net iets opgemaak het omdat al die nuuskieriges ‘n hartseer verhaal verwag het.
“Die nuutste storie is dat dit twee vrouens is wat baklei oor die huis. Die man het dit nie vir iemand gelos toe hy oorlede is nie. En tussen die twee stry hulle nou wie die erfgenaam is,” skryf Christien Snyman op Facebook.
Nelia Prinsloo Steyn sê onomwonde sy sal in die huis gaan intrek. “Dis so ‘n mooi huis! Wie los so ‘n mooi huis so verlate?”
Daar is selfs die enkeles wat sê hulle sou graag die huis wou koop. Maar niemand kan die eienaar opspoor nie. Na ‘n week lange ondersoek het Laevelder agter die kap van die byl gekom.
“Ek het daai stuk grond sowat 25 jaar gelede aan ‘n man verkoop. Dit was nadat ek erf 124 Halssnoer onderverdeel het,” vertel Piet Putter.
LEES OOK: Kruger lions venture into Marloth Park
Volgens hom het die eienaar die huis gebou en later jare Pretoria toe getrek. Die huis is met tye deur ander mense gehuur.
Tot sowat 10 jaar gelede. Volgens Putter het iemand van Polokwane die huis gekoop, maar geen mens weet wie nie.
Oor die spookstories sê Putter dat dit eintlik bog is. “Wat wel soms gebeur, is dat die wind deur die huis se stukkende vensters waai en dit dan ‘n loeigeluid maak. Dis seker maar die spoke!” spot hy.
Laevelder het vasgestel die huis tans aan dr. Corné P. de Leeuw, ‘n bekende Suid-Afrikaanse bourekenaar, behoort. Hy is in 2019 oorlede.
Die enigste kontak tans tussen die leë huis en De Leeuw is ene David Nahewy, ‘n werknemer of voormalige werknemer van CP de Leeuw Bourekenaars en Waardeerders. Die maatskappy het verskeie takke oor die land heen.
Die Polokwane-tak is egter na De Leeuw se dood gesluit en alle personeel is na die Pretoria- en Johannesburg-kantore verplaas.
LEES OOK: Polisie vra hulp met identifikasie van kalwers se eienaar
En dit is ook net hier waar Nahewy se spoor doodloop. Nie een van die takke of die hoofkantoor in Johannesburg se direkteur, ‘n ene G. Andersen, het op navrae en boodskappe gereageer nie.
Putter sê hy het al self navraag oor die huis gedoen, maar kry geen reaksie uit die maatskappy nie. “Ek sou graag die huis wou terugkoop en in ‘n gastehuis omskep … mits ek die eienaar kan kry!”
Intussen het Putter die taak op homself geneem om periodiek in te spring en die tuine van Hals-snoersingel 124A netjies te hou.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
