Singende Jan se nuwe Kersalbum bekoor
Die singende onderwyser, Jan Neethling, se album met Kersgesange- en psalms van die Liedboek van die Kerk, is nou op aanlynstroomdienste beskikbaar.
Neethling het verlede jaar ook ’n album opgeneem en vanjaar hard gewerk om buig of bars ’n Kersalbum die lig te laat sien.
“Ek het liedere gekies waarvan ek hou, wat ek graag loop en sing of neurie en wat my in moeilike tye dra, wat my dikwels herinner aan die hand van die Here. Ek sluit van die psalms in, omdat verskeie mense in my familie gevra het ek moet tog die woorde opneem. Psalm 23 het ek byvoorbeeld op ‘n paar se troues gesing en Psalm 100 loop ek elke jaar op die plaas en sing as die eerste somerreën val,” het Neethling vertel.

Vir Psalm 23, 48 en 100 het hy Totius se woorde gebruik en hy het Psalm 146 met die Voortrekkerwysie gesing sodat dit nie uitsterf nie. Die CD is ideaal vir gemeentes wat nie ‘n orrelis het nie en dit wil gebruik as begeleiding.
Die pragtige begeleiding is deur Elize Ballack, orrellis van die NG Moedergemeente te Lydenburg, waargeneem.
“Ek hoop mense sing uit volle bors saam,” het Neethling gesê.
Die liedere is beskikbaar op YouTube en die stroomdiens Spotify. Tik slegs sy naam, Jan Neethling, op die soekenjin van die dienste in om dit te koop en af te laai.
