Hervormers se trefferbasaar op Lydenburg is om die draai
Die Hervormde Kerk se jaarlikse basaar vind Vrydag en Saterdag 3 en 4 Junie plaas.

Oudergewoonte beloof die Hervormers se jaarlikse basaar om ‘n heerlike kuieraffêre te wees met al die lekkernye wat daarmee gepaardgaan.
Verrigtinge begin al Vrydag om 18:00 met ‘n heerlike braaivleisete van biefstuk of boerewors, pap en sous en ‘n slaai. Die biefstukbraaiete kos R80 en die boereworsbraaiete is R50. Bring ‘n mandjie saam en braai heerlik saam met die gemeente.

Saterdag gaan daar al van vroeg gewerskaf word. Basaargangers kan van 09:00 af vir ‘n heerlike boereontbyt in die kerk se tuin aansit.
Lees ook; Nostalgie na vervloë dae se algemene handelaars in Lydenburg
Aan eetgoed gaan daar natuurlik geen tekort wees nie. Die tafels gaan oudergewoonte onder die kerrie-en-rys, vetkoek, boereworsrolletjies, koffie, biltong, beskuit en vleis kreun.

‘n Groot koektafel met heerlike tuisgebak en ‘n lekkergoedtafel gaan vir die kinders en almal wat van ‘n ou soetigheidjie hou, onweerstaanbaar wees.
Hierdie jaar is daar ook melkskommels en ‘n moderne koffiestasie waarby besoekers kan kuier. Al die heerlike onthoukos maak van dié basaar altyd ‘n gunsteling.
Die Hervormde Kerk kan vanaf die ingang in De Beerstraat of die ingang in Viljoenstraat bereik word.
