Jolige affêre sorg weer vir ‘n trefferbasaar op Lydenburg
'n Gesellige verwelkoming deur ds. Rian Botha, boeke en smaaklike gebak het alles tot 'n vrolike atmosfeer by die Hervormde Kerk se basaar op Saterdag 4 Junie bygedra.
Die Hervormde Kerk is al vir dekades vir sy heerlike kuierbasaars bekend.
Met Nico Cross as die seremoniemeester, kon dit net ‘n jolige affêre wees. Gemeentelidmate het almal uithalerwerk gedoen om die lekkerste eetgoed aan te bied.
Die basaargangers het al van vroeg af al in die wintersonnetjie vir ‘n smullekker ontbyt aangesit. Moet ook nie die jafels, pannekoek, kerrie-en-rys, vleistafel en kilogramme der kilogramme biltong geringskat nie.

Met baie vermaak vir die kinders, gesigsverf, ‘n koektafel wat kreun onder die soetgoed en nog vele meer, was dit weer ‘n basaar vir die boeke.
Die Hervormde Kerk bedank die gemeenskap vir hul ondersteuning, die basaarkomitee en die gemeentelidmate wat baie hard gewerk het om van die dag ‘n sukses te maak.




















