Mbombela maak gereed vir rugbygeskiedenis
Met net meer as 32 dae oor voor die fluitjie vir dié tweestryd blaas, is meer as 90% van die kaartjies vir die 41 000-sitplek Mbombela-stadion reeds verkoop.
Rugbykoors het die Laeveld met mag en mening getref in afwagting tot die geskiedkundige tweestryd tussen die Springbokke en hulle aartsvyand, die Nieu-Seelandse All Blacks.
“Die kaartjies verkoop baie vinnig en die beste manier om te verseker jy kry jou sitplekkie, is om by die stadion se kaartjieskantoor aan te klop,” sê Roelf Kotze, die stadionbestuurder.
Volgens hom is alle R150- en R1 500- kaartjies vir dié magiese kragmeting op 6 Augustus uitverkoop. Daar is net nog kaartjies van onderskeidelik R500 en R1 000 beskikbaar. Vir die enkele uitverkorenes wat eerder hulle tyd in ‘n BBP-losie wil gaan verwyl, is daar bitter min kaartjies beskikbaar. Dié kos sowat R4 000 elk.

Intussen is bykans elke slaapplek in die stad, Witrivier, Kaapsehoop en tot sover as Hazyview vol bespreek. Volgens Linda Grimbeek, bestuurs-hoof van die Kruger Laeveld Toerisme- en Sakekamer (KLCBT), soek hulle naarstigtelik na nog verblyf vir rugbygeesdriftiges.
LEES OOK: SA landsvlag wapper in Montreal se strate
“Ons word oorval met navrae. Van die skole werk tans daaraan om hulle koshuise beskikbaar te stel. Ons doen ook ‘n beroep op inwoners wat dalk ‘n slaapkamer beskikbaar het, om met die KLCBT se kantoor in verbinding te tree. “Die enigste kwalifiserende voorwaarde wat daar is om ‘n kamer op die KLCBT se waglys te plaas, is dat die slaapkamer ‘n en suite-badkamer moet hê,” sê Grimbeek.
Met die Covid-19-pandemie in die bed en die massas mense wat na die stad toe gaan stroom, is die finansiële vooruitsig selfs beter as tydens die Innibos Kunstefees, sê Grimbeek.
“Dit is altyd moeilik om vooruit te bepaal hoeveel geld by die dorp gaan instroom, maar ons konserwatiewe verwagting is dat dit tussen R100 en R150 miljoen kan wees.”

Kotze sê die stadion het reeds groot planne in plek om die bes moontlike ondervinding vir rugbyliefhebbers te skep. Daar is ‘n reusebiertent met verskeie kos- en ander stalletjies wat op die stadion se B-veld opgerig gaan word. Kotze waarsku egter dat geen parkering op die stadiongronde beskikbaar sal wees nie.
“Die parkeerplekke is geoormerk vir gemagtige voertuie soos dié van BBP’s, losiehouers en uitstallers. Daar word egter voorsiening gemaak vir parkeerplek buite die stadion op die twee aangrensende sportgronde, asook ‘n terrein by die Halls Gateway en die TRAC-kompleks.”
LEES OOK: 40 spelers woon gholfdag van Lydenburg Dienssentrum by
Hy moedig besoekers aan om eerder van die “stop-en-hop” (park and ride) -terreine wat beskikbaar is, gebruik te maak.
“Daar is nege baie goed geleë en veilige parkeerterreine beskikbaar waar voertuie parkeer kan word.” Die ligging van hierdie terreine sal later van tyd bekendgemaak word. “Pendeldienste is vanaf al die parkeerterreine na die stadion en terug aangelê,” sê Kotze.
Die hekke van die stadion se terrein maak op Saterdag 6 Augustus reeds om 10:00 oop. Om 13:00 sal die hekke vir toegang tot die paviljoene oopgegooi word. Om verblyf beskikbaar te stel, skakel die KLCBT se bemarkingsbestuurder, Nomkhosi Tshabalala, by 013 755 1988.
