Local news

Saak teen Izak du Plessis van rol verwyder

Na hy 'n nag in Mbombela se polisieselle deurgebring het en die volgende dag op R2 000-borgtog vrygelaat is, is Izak du Plessis se saak van die rol verwyder.

“Ek is ‘n vry man!”

Dit is hoe die Nuuspod-man, Izak du Plessis, vanoggend na sy hofverskyning in die Johannesburg Landdroshof op Facebook reageer het, nadat die saak teen hom teruggetrek is en van die rol verwyder is.

Du Plessis se inhegtenisname verlede Donderdag het wye reaksie uitgelok. Hy is by ‘n bekende inkopiesentrum in Mbombela gearresteer nadat die privaat ondersoeker, Mike Bolhuis, beweer het dat Du Plessis nie ag geslaan het op ‘n beskermingsbevel wat teen hom verkry is nie.

LEES OOK: Izak du Plessis, bekende potgooier en voormalige radioman, agter tralies

Bolhuis se bevel is bekom oor twee video’s, waarop ontevrede kliënte van hom onderhoude aan Du Plessis toegestaan het en wat op sy nuuskanaal, Nuuspod, gepubliseer is. Bolhuis het verlede Donderdag aan Laevelder bevestig dat ‘n spesiale ondersoekspan wat uit die Valke, die polisie se misdaadinligtingseenheid en die polisie se soek-en-opsporingspan bestaan het, Du Plessis op minagting van die bevel in hegtenis geneem het.

Du Plessis het volgehou dat hy nooit so ‘n bevel ontvang het nie. Hy het die nag in die polisieselle deurgebring en is Vrydag op borgtog van R2 000 vrygelaat. Hy moes vanoggend in Johannesburg verskyn.

LEES OOK: OPVOLG: Izak du Plessis op borgtog vrygelaat

LEES OOK: KYK: Izak du Plessis vertel oor sy aand agter tralies

Sy regsverteenwoordiger, Henk Frey, het aan Laevelder gesê die ondersoekbeampte het hom vanoggend gekontak en laat weet dat hy die beskermingsbevel op Du Plessis by die hof sou beteken. Frey het gesê dit was in orde. Kort hierna is Frey ingelig dat die hoflêer wat met die beskermingsbevel verband hou, nêrens te vinde was nie en dat die betekening dus ook nie kon voortgaan nie.

Die saak is toe van die rol verwyder. Du Plessis het Vrydag reeds die video’s op Nuuspod privaat gemaak en dit kan nie meer deur die publiek gekyk word nie.

Laevelder se susterskoerant, Pretoria Rekord, het Bolhuis vir kommentaar genader en ook gevra of hy moontlik ‘n afskrif van die beskermingsbevel aan hulle beskikbaar kon maak.

Hy het laat weet dat hy Vrydag op die vrae sal reageer en dat hy self eers met sy regsverteenwoordiger wil konsulteer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button