Phoenix daag ander firmas uit om Rusoord Lydenburg te help
Graad sewe leerders neem ouetehuis as projek aan.
Elke kwartaal kies Laerskool Lydenburg se leiers ’n projek waarmee hulle by die gemeenskap
betrokke raak. Mauritz Stander en die ander leiers het besluit die Rusoord Tehuis vir Bejaardes gaan vir die derde kwartaal hul fokus wees.
Op Donderdag 1 September het Mauritz ’n tjek
van etlike duisend rand namens Phoenix Flying Squad aan Rusoord oorhandig. Phoenix Flying Squad wil graag ander maatskappye uitdaag om dieselfde te doen.
Lees ook: Rustige Lydenburg-strate kry vrolike lewe
Volgens Karin Stander van Phoenix hoef dit nie noodwendig dieselfde bedrag te wees nie, maar sakeondernemings kan selfs net R1 000 of R2 000 borg om ’n verskil te maak. Winkels kan ook
byvoorbeeld kontant of geskenkbewyse skenk.
Die Rusoord se bestuur het gesê hulle benodig fondse om die verswaktesorgeenheid op te gradeer. Rusoord het finansieel ’n groot verlies tydens die Covid-pandemie gely. Hierdie eenheid word teen ’n verlies bedryf. Die pasiënte is reeds pensioenarisse en het nie die fondse om ekstra vir verswaktesorg te betaal nie.
Lydia Niemand, Rusoord se bestuurder, het gesê in Gauteng is die voldagtarief by ’n verswaktesorgeenheid al tussen R23 000 en R29 000.
“Ons bedank ook vir Laerskool Lydenburg wat ons kinders bewus maak dat dit nodig is om as ’n gemeenskap saam te staan om ander te help. Ons sien baie uit na die kwartaal se projek en hoop om te kan vertel van ’n groot suksesverhaal,” het Niemand gesê.
