Rondkruip in plafon lei tot fonds in Lydenburg
Gebou was dorp se eerste munisipale kantore

Om ’n plafon in ’n gebou wat reeds in 1922 in gebruik geneem is, reg te maak, kan tot groot skatte lei.
Lees ook: Sélfs die dood kon egpaar nie skei
Aquaseal het op Woensdag 14 September ’n oproep van die Lydenburg Dienssentrum ontvang om
dakskade te herstel.
Met die rondkruip in die plafon het hy op drie tekenborde, gedateer 20 April 1938, afgekom. Op die borde staan bywette wat in 1938 opgelê is vir die proklamasie van oop parke en munisipale tuine in Lydenburg.
Die gebou waarin die Lydenburg Dienssentrum geleë is, was Lydenburg se eerste munisipale kantore. Op die gebou is
die datum 1922 aangebring en dit is steeds duidelik. Die gebou is op die hoek van Voortrekker- en Rensburgstraat geleë.
Die huidige munisipale kantore, bekend as die Thaba Chweu Plaaslike Munisipaliteit, is eers in die laat 1980’s voltooi.
Dit is vir Shaunette Erasmus, bestuurder van die Lydenburg Dienssentrum, interessant dat iemand juis hierdie drie borde in die plafon sou indruk en wegsteek. Hulle beoog om dit aan die Lydenburg Museum te oorhandig.
“Dit was wel weggesteek in ’n nuwer gedeelte van die plafon. Die gebou is egter só oud, ons sal nooit weet wanneer dit daar gesit is nie. Daar is reëls en regulasies op van 1938 met betrekking tot oop areas en parke. Ek neem aan dit was in die buitelug gewees, want dit is baie geroes. Elke bord het ’n staaldakkie om dit te beskerm,” het Erasmus gesê.
Kontak gerus Steelburger/Lydenburg Nuus by 013 235 1624 indien jy meer inligting rondom hierdie borde het.
Lees ook: Bome erken vir hul geskiedkundige waarde in Lydenburg


