Rustig Ouetehuis se inwoners beïndruk in tuinkompetisie
Die Witrivier Care Buddies het gesorg vir 'n behoorlike bederf by dié tuinkompetisie.
Rustig Ouetehuis het onlangs, te danke aan die Witrivier Care Buddies, ook hulle beurt gehad om hulle tuine teen mekaar op te weeg.
Die tuine is op 22 September deur Hannes Scholtz beoordeel en die prysuitdeling is die volgende dag in die wenner, Bets du Toit, se manjifieke tuin gehou.
White River Garden Pavilion het die pryse geborg. Behalwe vir die eerste drie plekke, het elke deelnemer ook ‘n potplant gekry om huis toe te neem.
LEES OOK: Van boeremusiek tot rock en alles tussen-in by die Innibos Buitelug Familiefees
Die Care Buddies se “mobiele koswa” agter op ‘n bakkie het vir heerlike verversings en versnaperinge gesorg.
Scholtz sê die beoordeling van die tuinkompetisie was ‘n aangename en groot voorreg. “Die standaard van die 25 tuine wat ingeskryf is, was besonders hoog en die kompetisie was streng.”
Die netheid van tuine en verskeidenheid van plante het hom veral opgeval.
Tydens die beoordeling is daar gekyk na kleur, verskeidenheid en die gehalte van die plante. Die gebruik van spasie was baie belangrik.
ALSO READ: Close call in Macadamia Retirement Village’s garden competition
“Dit was opvallend hoe klein areas gebruik is, en waar daar nie grond was nie, het inwoners plante in hangmandjies gebruik om die harde baksteenoppervlaktes te versag.
“Fokuspunte is ‘n baie belangrike aspek van ‘n goed ontwerpte tuin. Dit was ‘n plesier om te sien elke tuin het ‘n waterelement, ‘n mooi pot, ‘n boomstomp, ‘n voëlbad, ‘n bankie of ‘n spesifieke plant wat uitstaan.”